Vergeet My Nie

Resensie

Deur

Roelof Bezuidenhout

Stofpad na Namibië of teerpad na die stad? Vergeet My Nie bekyk keuses van die hart. 

 

Dit is 1997. Mardaleen (gespeel deur Marguerite van Eeden) is ‘n BA Kommunikasie-student op Potchefstroom wat daarvan droom om eendag ‘n uitgewer te word. Maar eers wil sy Londen toe om studieskuld te vereffen. Sy ontmoet intussen vir Hugo (Sean-Marco Vorster) op kampus, maar dink aanvanklik nie veel van dié pierewaaier spiertier terwyl sy nog in ‘n ander verhouding is nie. Hierdie verhouding verbrokkel egter voordat sy in Londen opdaag, onwetend dat sy ‘n huis sal deel met onder andere Hugo, wat nou as sekuriteitswag daar werk. Kans en geleentheid ontmoet, en die tweetjies se omstandighede is perfek om mekaar beter te leer ken. Kort voor lank is hulle verlief, maar ‘n onverwagse droom-werkaanbieding terug op eie bodem, veroorsaak dat hul paaie weer skei. Hugo kom self ook terug na die Afrika vasteland, waar hy hom as boer in Namibië vestig. Maar watter een van hierdie twee gesegdes is meer korrek: die Afrikaanse “Uit die oog, uit die hart” of die Engelse “Absence makes the heart grow fonder”, en sal die feit dat hulle nou baie nader aan mekaar is, maak dat Mardaleen haar aanvanklike drome sal prysgee vir ‘n nuwe een?

 

Hoewel ek as beide ‘n oud-Puk én oud-Wapad redaksielid (die NWU se studentekoerant) ‘n warm gevoel in my hart gekry het met die openingstonele van die film wat op dié kampus afspeel (ek het selfs ‘n vriendin wat saam met my daar was gebel en gevra wat ‘daai tonnel tussen die koshuise en kampus’ genoem word, net om herinner te word dat dit die “Duikweg” was. Ongelukkig is dit waar die warm gevoel gestop het.

 

Die storie van Mardaleen Coetzer en Hugo Derks is ‘n ware verhaal, maar die draaiboek is deur Tarryn-Tanille Prinsloo geskryf en deur Hanneke Schutte geredigeer, met hier en daar ‘n paar aanpassings vir die silwerdoek. Terwyl mens nie weet watter van die tonele werklik gebeur het, en watter, tot welke mate ookal, nie, was hierdie verhaal nie juis uniek nie. Name van mense en plekke verskil dalk, maar ek ken persoonlik ‘n hele paar sulke stories van my Puk-dae alleen. Dit maak egter nie hierdie storie minder spesiaal nie – inteendeel – dit maak seker dat meer mense daarby sal aanklank vind, en uiteindelik was die doel tog om een paartjie se storie met die wêreld te deel.

Tog het ek die rolprent  langdradig, vervelig en hopeloos te lank gevind. En selfs met al die ekstra tyd (dis bykans twee ure lank), was daar steeds nie genoeg tyd vir behoorlike karakterontwikkeling nie. Emosies en aksies was in heelwat tonele nie genoegsaam geregverdig en gemotiveer vir die kyker nie, en verskeie tyd- en plekspronge het gemaak dat jy heeltyd probeer uitpluis hoe een ding nou eintlik tot die ander gelei het, en hoeveel tyd realisties intussen kon verloop het. ‘n Toneel waaroor ek nou nog wonder, is hoe Mardaleen realisties na letterlik nét een dag op die plaas in Namibië só ‘n ineenstorting en uitbarsting kon kry oor hoe sy nooit op die plaas sal aard nie. Ek herhaal: na nét een dag? Ek het ongelukkig gevoel asof daar net te veel gebeure en oomblikke in ‘n te kort tydjie moes inpas, en of sekere tonele doelbewus geïntensifiseer en/of geskep is om ‘n sekere punt baie vinnig te maak. En wat die onderskrifte betref: die meervoud van foto’s in Engels is nie photo’s nie…

 

Die redigering het gepla, in die sin dat daar heelparty oorbodige lang tonele was, terwyl minstens drie ‘vinnige sekwens’-tonele, sonder enige atmosferiese/agtergrondklank nie juis veel gedoen het om die tydsverloop en/of emosionele ontwikkeling tussen karakters aan te help nie.

 

Die musiek was nie vir my gepas vir die tema of genre van die fliek nie, en terwyl mens dit eintlik nie eens moet oplet wanneer alle aspekte van die film perfek saamwerk nie, het dit eintlik afbreek gedoen aan elke toneel. Dit het blikkerig en koud gevoel, en het my heeltemal van die emosies van die verhaal verwyder. 

 

Wat die rolverdeling betref, as akteur het die relatief-nuweling Kenley Swart, wat die rol van Lara Hattingh, Mardaleen se vriendin, vertolk het, vir my uitgestaan en die grootste indruk gemaak, selfs in haar ondersteunende rol.

Vergeet my nie, uit die staal stal van die produksiemaatskappy The Film Factory (wat vir onder meer bekroonde produksies soos Fiela se Kind, Meerkat Maantuig, Vaselinetjie, en Ballade vir ‘n Enkeling verantwoordelik was) het met hierdie rolprent, betyds vir Valentynsdag, ‘n liefdesverhaal vertel waarmee baie sal kan identifiseer. Daar is genoeg snaakse oomblikke en gespierde lywe om ‘n verliefde paartjie mee te vermaak. En die boodskap? Net omdat jy ‘n droom het, beteken dit nie dat ‘n beter een dit nooit kan vervang nie. Want waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg, solank jy jou hart volg.

Inligting

}

Speeltyd

117 min

i

Teks & Regie

Tarryn-Tanille Prinsloo |Andre Velts

Skerms

35

s

Ouderdomsbeperking

13 D L S

Akteurs

Marguerite van Eden, Sean-Marco Vorster, Kenley Swart, Pietie Beyers, Fiona Ramsay, Elani Dekker, Amalia Uys, Leché Joubert, Rikus Strauss, Arno Greeff

Sterre

2.5/5

Bruto Inkomste

0

Word deel van die vriendekring