Wesens

ʼn Raaiselagtige Suid-Afrikaanse Wetenskapfiksie Rolprent

Nuus

Deur

Anna-Marie Jansen van Vuuren

Gewapen met ʼn Super 8 en ʼn 16mm-rolprentkamera, besoek vier regeringsamptenare ʼn plaas in die Karoo. Hul geheime sending? Om uit te vind of ʼn vreemde vlieënde voorwerp wel daar geland het, en indien wel, wetenskaplike monsters te versamel waarop hulle later toetse kan uitvoer. Wat hulle daar in die dorre landskap vind, mag dalk selfs vreemder wees as die skepe van Mars wat Fritz Deelman besoek het.

Wesens word as die eerste regmatige Afrikaanse wetenskapsfiksie (“Sci-Fi”) rolprent beskou – wat nogal ongelooflik is as ʼn mens daaraan dink dat War of the Worlds – eers as ʼn radio drama in 1938, en toe as ʼn vollengte rolprent in 1953 – lank reeds gehore se verbeelding aangryp. In 1968 het Stanley Kubrick kykers laat regop sit met sy invloedryke rolprent, 2001: A Space Odyssey, wat ook regisseurs soos George Lucas, Steven Spielberg en Ridley Scott geïnspireer het. Dié fliek tel nou nog onder rolprentresensent Leon van Nierop se gunstelinge. Tog was dit maar saai op hierdie front in die Afrikaanse rolprentmark, tot die verskyning van Wesens in 2020.

Skrywer en regisseur Derick Muller en sy vrou, die vervaardiger Karin Muller, het dié rolprent heeltemal op eie houtjie gemaak. Derick vertel die storie-idee het oorspronklik ontstaan toe hy en Karin by ʼn oudhede winkel in Ceres ʼn ou 16mm-rolprentkamera ontdek het. “Saam met hierdie vintage kamera was daar ʼn klomp filmrolle verpak. Ons het nie ʼn rolprentprojektor by die huis gehad nie, so toe het ons onsself al hierdie vreemde dinge wysgemaak van wat op dié filmrolle kon wees.” Daarom, toe hulle uiteindelik hul eerste fliek maak, was die sogenaamde “found footage”-konsep die styl waarin hul dit verfilm het.

Toe ek die eerste keer hiervan gehoor het, het die Amerikaanse rolprent The Blair Witch Project (1999) dadelik by my opgekom. Dit was tog ʼn rolprent waar die filmmakers met baie sukses hierdie kamera-tegniek toegepas het. Karin en Derick lag as ek hulle daaroor uitvra. Karin vertel dat Derick nooit The Blair Witch Project enduit kon kyk nie, omdat hy “vertigo”, oftewel bewegingsiekte, kry. Daarom het hulle dit in ag geneem met Wesens en seker gemaak dat die kameras gestabiliseer is, sodat iemand wat aan dié kondisie ly, steeds na die fliek kan kyk sonder dat die aarde om hom begin draai.

Aangesien hulle die rolprent heeltemal uit hul eie sak gemaak het, het die Mullers besluit om in die Karoo te verfilm. Buiten daarvoor dat dit billik was om op ʼn plaas in die Oubergpas (tussen Touwsrivier en Montagu) te skiet, was dit die ideale agtergrond waarteen hul storie kon afspeel. “Daar is letterlik niks – nie elektrisiteit, water, badkamers of selfoonsein nie. Dit is ook ʼn landskap waar ons onsself kon verbeel iets soos hierdie sou kon gebeur.” Dit is ook hier waar van die rolprent se akteurs self die rekwisitiete gebou het, soos ʼn ruimteskip waaruit die “wesens” later sou kruip.

Al kan só ʼn projek baie druk op ʼn paartjie plaas, glo hulle hul sakevernuf het hul gehelp om die projek suksevol en met die minste moontlike konflik aan te pak. Derick, wat beide ʼn MBA en ʼn meestersgraad in Kreatiewe Skryfkuns het, besit sy eie reklame-maatskappy, terwyl Karin haar eie mode-agentskap (wat in uit- en invoere spesialiseer) bestuur. Covid-19 het dalk hul verspreidingsplanne gekortwiek en hul uitreikingsdatum uitgestel, maar nes die ruimteskip in vele wetenskapsfiksie rolprente uiteindelik seëvierend opstyg, het Wesens uiteindelik sy oorwinningsrit en ʼn rooi tapyt by plaaslike fliekteaters gekry, toe dit die eerste Afrikaanse rolprent geword het wat na die streng Covid-19 inperking, weer by tradisionele teaters kon wys.

Word deel van die vriendekring