Uitvlucht

Almal verdien ’n tweede kans

Resensie

Deur

Anna-Marie Jansen van Vuuren

Afrikaanse rolprentgangers word meestal gebombardeer met twee uiterstes op die grootskerm: die ekstreme hartseer en dramatiese en die onrealistiese gelukkige. Daar is selde ’n middeweg. Veteraan rolprentmaker, Regardt van den Bergh, se jongste film, Uitvlucht, poog om harte aan te raak en belangrike lewenslesse oor te dra aan kykers.

Die Nederlandse titel, Uitvlucht, het in dié rolprent twee betekenisse: a) baie van die gebeure handel by en oor die Uitvlucht plaasskooltjie en b) die hoofkarakter vlug letterlik uit haar omstandighede opsoek na ’n twee kans om haar lewe te verander. Clara Joubert van den Bergh (Regardt se wederhelf en ook die medeskrywer van die film) vertolk die rol van Anna en die rolprent is ook ligweg op Clara se werklike lewe gebasseer. Anna het op die oog af die perfekte lewe: ’n middelklas bestaan met ’n man en twee kinders, maar diep binne is sy wel sielsongelukkig. Haar man (meesterlik vertolk deur Albert Maritz) vind uit dat sy ’n skelmpie het en al jare ontrou aan hom is. Op hierdie breekpunt en gebrokenheid in haar lewe, vlug sy na Uitvlucht in die Oos-Kaap om te gaan skoolgee. Minwetende dat Uitvlucht haar hart en lewe heeltemal sou verander.

Alles is nie maanskyn en rose nie. Uitvlucht en die plattelandse omgewing het weer probleme van sy eie, soos drank- en dwelmmisbruik, gesinsgeweld, uitbuiting, armoede en ongeletterdheid. Hierdie hartseer bring nuwe hoop vir Anna wanneer sy besef dat sy werklik ’n verskil kan maak. Sy kry ’n lewensdoel deur toekomsdrome by die kinders te kweek, en sodoende word haar gebreekte vlerke geleidelik ook weer heel. Behalwe vir die onvoorwaardelike liefde van die skoolkinders, wink daar ook die moontlikheid van ’n nuwe verhouding vir Anna, in die vorm van die gemoedelike en diep gelowige Dok (vertolk deur Stian Bam). Anna herstel haar geestelike lewe en daaruit vloei sielsgeluk en haar bereidwilligheid om ander te help.

Uitvlucht gaan verseker harte aanraak met die harde werklikhede wat op die grootskerm ten toon gestel word. Ontrouheid en verbrokkelende verhoudings is algemeen in vandag se lewe en die hartseer wat dit in families te weeg bring, word sonder om doekies om te draai aan die kyker gewys. Die brutaliteit en haglikheid van die omstandighede waarin baie plattelandse gemeenskappe moet voortbestaan, word ook nie sagkuns vertoon nie. Die seer op die skerm tref ’n mens hard. Aan die ander kant van die muntstuk, sal die belofte van nuwe hoop en tweede kanse ook kykers se guns oorwen. Liefde oorwin in elke struikelblok van die rolprent se gebeure.

Daar is egtheid in die akteurs se vertolkings. Bam en Joubert van den Bergh is sprekende voorbeelde van onopgesmukte eerlikheid. Regardt van den Bergh slaag daarin om rou emosies van sy akteurs na vore te bring. Ander uitstaanvertolkings, sluit in Jill Levenberg as die onderwyserres San, en Oscar Peterson as Pieta, die lojale plaaswerker. Dit was heerlik om weer vir Margor Luyt en Carel Trichardt op die grootskerm te sien. Alhoewel hy min speeltyd het, kwyt Clyde Berning hom ook goed van sy taak as die Jan Alleman-karakter, Willie. Ook die gebruik van die werklike skoolkinders en lede van die gemeenskap, is suksesvol en dra by tot die rolprent se egtheid.

Die teks skiet wel plek-plek te kort. Die pragtige storie en wonderlike karakters word soms oorskadu deur ’n teks wat nie goed deurgevoer is nie. Veral Anna en Dok se karakters se reis na liefde voel amper te gejaagd en te goed om waar te wees. Dok het Anna een keer ontmoet en is klaar verlief en na ’n paar ontmoetings praat hy al van vrouvat teenoor sy pa. Dalk ’n geval van te vinnig, te veel. Ook Anna se geestelike reis beweeg blitsvinnig vanaf haar donker verlede na ’n prentjiemooi toonbeeld van ’n gelowige. Die geloofsaspek word oor die algemeen dalk ’n bietjie oordoen in die rolprent. Dis wonderlik dat die Van den Berghs besluit het op ’n inspirerende rolprent met geloof as fondasie, maar die direkte, aanhoudende melding van geloof en God, mag dalk juis mense afsit. Presies dieselfde boodskap kon met ietwat minder direkte verwysings oorgedra geword het.

Die jong kinematograaf, Zenn van Zyl, skitter in Uitvlucht. Elke beeld is merkbaar goed deurdink en geïmplementeer. Veral die lugskote is pragtig vasgevang en vertoon die natuurlike skoonheid van die Oos-Kaapse landskappe. Naby gesigskote is ewe gemaklik en geslaagd aangewend om die pretensieloosheid van die toneelspel weer te gee.

Regardt van den Bergh bied ’n identifiseerbare liefdestorie en ’n reis van selfontdekking. Uitvlucht verdien om ’n indruk op die algemene publiek te maak.

Inligting

}

Speeltyd

88 min

i

Teks & Regie

Regardt van den Bergh, Clara Joubert van den Bergh | Regardt van den Bergh

Skerms

25

s

Ouderdomsbeperking

 10–12PG

Akteurs

Clara Joubert van den Bergh, Stian Bam, Margot Luyt, Carel Trichardt, Jill Levenberg, Clyde Berning, Marvin Lee Beukes, Oscar Petersen

Sterre

3.5/5

Bruto Inkomste

0

Word deel van die vriendekring