Trouvoete

Die liefde is ’n komplekse operasie

Resensie

Deur

Anna-Marie Jansen van Vuuren

Regisseur Darrell James Roodt het Suid-Afrika se beker al menigte male laat oorloop van trots. Rolprente soos Sarafina!, Yesterday en Cry, The Beloved Country, sal seker altyd inspirasie bied vir toekomstige plaaslike filmmakers. Aan die ander kant van die muntstuk, het Roodt ook al ’n paar lig-in-die-broek rolprente die lig laat sien. Van die eerste oogopslag is dit duidelik dat Trouvoete (vrygestel deur Valhalla Productions en Phoenix Films) in die laasgenoemde kategorie val.

Trouvoete herinner ’n mens oombliklik aan Richard Curtis se 2003 Britse Kersfees liefdesverhaal, Love Actually (die fliekplakkaat op sy eie is leidraad genoeg). ’n Verskeidenheid karakters se verweefde stories is die kern van die rolprent – soms is die skakels tussen karakters duidelik en soms vang dit jou onkant. Trouvoete se slagspreuk lui: Hierdie is nie ’n liefdesverhaal nie. Dis ’n verhaal oor die liefde.

Die rolprent handel oor Louis van Est (Bouwer Bosch in sy grootste filmrol nog), ’n agtermekaar dokter wat die anatomie van die mens maar alte goed verstaan, maar klaarblyklik ’n leek is as dit kom by sake van die hart. Al wat sy monotoon bestaan opkikker, is sy aanlyngeselssies met ’n onbekende dame, wat haarself ‘Natgrassterrekyker’ noem.

Die ander hoofstorielyn wentel om die lief en leed van twee susters, Ella en Magriet Gouws (prettig vertolk deur Erica Wessels en Lika Berning). Die 33-jarige Ella is al telke male teleurgesteld gelaat deur die liefde (veral deur ’n studentekêrel wat “commitment issues” gehad het) en hou daarom alle mans op ’n veilige afstand. Magriet is pas verloof aan Phillip (Paul du Toit wys dat hy ook in staat is tot komiese rolle) en het besluit om haar troue op Kersdag te hou. Ella is bly vir haar jonger sus, maar kan nie help om soos die swart skaap in die familie te voel nie.

Die rolprent neem ’n 360-grade omwenteling wanneer Louis besluit om sy aanlynkletsmaat te vra om hom in lewende lywe te ontmoet. Die metaforiese pawpaw slaan dan behoorlik die “fan”.

Bosch is bekend vir sy komiese rolle en kon daarom die karakter Louis se ligte oomblikke goed vasvang. ’n Tekort aan emosionele diepte veroorsaak egter ’n baie eendimensionele karakter. Wessels en Berning se toneelspel is oor die algemeen geslaagd, maar omdat die kyker weet waartoe hulle in staat is, is die eindresultaat dié van teleurstelling.

Du Toit staan uit as hoofspeler in die rolprent en slaag daarin om ten spyte van die ligte luim ’n karakter te skep waarmee almal sal kan identifiseer. Kykers kan dan ook uitsien om Stefan Ludik weer op die grootskerm te sien. Xander, Louis se beste pêl, is ’n grootprater en egosentries, maar het nie genoeg selfvertroue om sy geheime liefde aan Celia (Marlee van der Merwe) te openbaar nie.

Karakters wat min speeltyd op die grootskerm het, maar tog skitter in hulle onderskeie rolle, is die flambojante troubeplanner Otto de Jager (JC Snooke) en die uitspattige mode-ontwerper, Chris (Charlie Bourgenon). Snooke en Bourgenon loop oor van talent en hoort in hoofrolle. Rika Sennett kwyt haar goed van haar taak as Joan, die ma van Ella en Magriet. Die karakter Dirk Heyns het ’n oog op Ella en word sonder tierlantyntjies vertolk deur die ervare akteur, Deon Coetzee.

Dis ‘n jammerte dat Lizz Meiring en Richard van der Westhuizen slegs in een toneel elk te sien is, want hulle skynbaar moeitelose toneelspel sou dalk die rolprent die hupstoot kon gee wat dit benodig. Die kostuumwinkeltoneel tussen Meiring en Bosch is komies en laf, terwyl die fietsrytoneel tussen Van der Westhuizen en Bosch teer is en die hartsnare roer.

Trouvoete se kinematografie (deur Pierre Smith) en verwerking is eenvoudig dog slim aangepak, en maak op ’n manier op vir die ietwat flou storielyn (geskryf deur Tarryn-Tanille Prinsloo). Kyk veral uit vir die slim verwerkingstegniek tydens die danstonele by Magriet en Phillip se verlowingspartytjie. Die temalied is oordrewe kinderlik, maar Geo Hohn bewys homself weer eens as meester om enige storie met gepaste oorspronklike musiek in te kleur.

Die grootste kritiek is die oormatige en hoogs ongeslaagde gebruik van produkplasing vir die rolprent se borge. Nie minder nie as 40 borge kry elkeen ’n paar sekondes (en in sekere gevalle minute) van glorie op die skerm. Of dit nou ’n maatskappynaam is wat net te lank vertoon word of ’n karakter wat heeltemal buite konteks van die storie en onnatuurlik na ’n produk verwys/eet/gebruik, pla dit deurgaans en dra glad nie by tot die kykgenot van die film nie. Ek besef rolprente het kapitaal nodig om gemaak te word, maar hierdie ekstreme vergoeding in ruil vir geld, doen meer kwaad as goed. ’n Middeweg gaan gevind moet word.

Suid-Afrikaanse komiese rolprente is nog te lig in die broek en Trouvoete is geen uitsondering nie. Die verrassingslose teks lei tot onidentifiseerbare karakters, en as gevolg hiervan sukkel die skip om bo te bly.

Te midde van die absurde ekonomiese en politiese toestand van die land, is ligte vermaak net wat ons nodig het, maar ek dink tog ons moet met meer tevrede wees en moet as kykers daarop aandring. Die rolverdeling en tegniese span ís tot meer in staat en het dit al elkeen in die verlede bewys.

Trouvoete is lekker vir ’n familie-uitstappie, maar is te kommersieel om jou vir langer as die fliek se duur by te bly.

Inligting

}

Speeltyd

100 min

i

Teks & Regie

Darrell Roodt

Skerms

25

s

Ouderdomsbeperking

7–9PG L

Akteurs

Erica Wessels, Bouwer Bosch, Paul du Toit, Lika Berning, Stefan Ludik, Lizz Meiring, Rika Sennet, Richard Van Der Westhuizen, Marlee van der Merwe, Zeus

Sterre

2.5/5

Bruto Inkomste

0

Word deel van die vriendekring