The Adventures of Supermama

Dié avontuur verskaf nie veel plesier nie

Resensie

Deur

Gerhard Ehlers

Doris Ratabane (gespeel deur Nomsa Buthelezi) is te sien in The Adventures of Supermama as Johannesburg se eie superheld wat misdaad bekamp. Die storie begin met ’n kort kykie na haar vormingsjare en spring dan na die hede waar sy as ’n volwasse vrou besluit dat iets omtrent misdaad gedoen moet word. Na ’n toevallige ontmoeting met ’n Kung Fu-meester, Mister Val Hung (Leo Ming), meld sy by hom aan vir lesse in dié oeroue vegkuns. Baie pyn en leiding volg wat uiteindelik oorkom word, waarna sy die besluit neem dat sy gereed is om die strate te betree as superheld. Met ’n tuisgemaakte kostuum en net ’n paar maande se kennis van Kung Fu, durf sy dan die booswigte aan. Maar, soos verwag kan word in ’n korrupte land en samelewing, is daar ’n kinkel in die kabel. Supermama moet uithaal en wys wanneer sy teen meer te staan kom as net ’n spul boewe.

Ongelukkig het hierdie komedie my nie beïndruk nie. Dit is stadig met flou grappe, en slegs hier en daar het ’n toneel my ooit meer as net ’n glimlag verskaf. Daar was tog één prettige aksietoneel waar Supermama die boewe in ’n tuk-tuk (’n driewiel-taxi) agtervolg, wat potensiaal gehad het as dit nie so kort was nie. Daar is nog een treffertoneel, waar haar Kung Fu-vaardighede tot die uiterste beproef word in verskeie omgewings, onder meer in haar huis, terwyl haar man Jabulani (baie goed vertolk deur Michael Mabizela) rustig voortgaan met sy alledaagse lewe. Oor die algemeen is dit die tipe fliek waarin jy gou jou aandag en belangstelling kan verloor.

The Adventures of Supermama se kwaliteit het my aan dié van ‘n eksperimentele kortfilm herinner. Een waarvoor daar nie genoeg tyd of geld was om dit tot sy volle reg te laat kom nie. Die musiek het slegs in enkele tonele positief bygedra tot die storielyn, soos in die tonele waarin ’n klankbaan gebruik is wat sterk herinner het aan dié van The Pink Panther. Ek het ook baie gehou van die heel laaste toneel waarin (wat vir my geklink het na) ’n oorspronklike temalied, getiteld “Heroes”, vir ‘n mooi einde gesorg het. Boonop het swak aksente, twyfelagtige teks en ongeloofwaardige spel nie een bygedra tot ’n genotvolle fliekervaring nie.

Die storielyn steun swaar op stereotipes, kulturele sêgoed en verskille (en om die spot daarmee te dryf), terwyl daar ook ’n duidelike ondertoon van die tipe korrupsie en trae diens is waaraan ons as Suid-Afrikaners gewoond is. Eerder as om regtig snaaks te wees, maak dit ’n mens kwaad om daaraan herinner te word. Boeke wat deur die karakters gelees word, met titels soos “How to sleep on the job 101” (deur ’n sekuriteitswag), en “How to be corrupt and get away with millions 101”, is maar twee voorbeelde hiervan. So ook die Polisie Kommissaris (briljant gespeel deur Desmond Dube) se selfbeheptheid en sy ewige stryd met woorde en syfers (wat onmiddellik beelde van ’n sekere voormalige president oproep) en die gevegskunsmeester se alewige wyse en filosofiese woorde. Dit raak uiteindelik net te veel. Ratabane het tog op ’n unieke wyse dit reggekry om lewe in die rol van Supermama te blaas, maar haar aanhoudende oordrewe gesigsuitdrukkings was nie altyd gepas nie, en het later aandag van haar spel afgetrek.

Die idee van ’n plaaslike superheld het my werklik opgewonde gehad en die algehele idee en onderliggende boodskap is beide oulik en nodig, maar The Adventures of Supermama kon myns insiens net nie van die grond af kom nie.

Inligting

}

Speeltyd

92 min

i

Teks & Regie

Ben Tjibe, Karen van Schalkwyk, Damon Berry | Karen van Schalkwyk

Webtuiste

Skerms

25

s

Ouderdomsbeperking

10–12PG D P V

Akteurs

Nomsa Buthelezi, Michael Mabizela, Desmond Dube, Leo Ming, Siyabonga Mtshali, Joe Vaz, Bernardo Mikizi

Sterre

2/5

Bruto Inkomste

0

Word deel van die vriendekring