’n Man Soos My Pa

Dié skitterprent is ’n kosbare sielsreis

Resensie

Deur

Anna-Marie Jansen van Vuuren

Juan, ’n talentvolle jong pianis en liedjieskrywer, verlaat sy ouerhuis om van sy pa, Attie, se alkoholisme te vlug – maar ander spoke maal in sy kop.

Nou, na 20 jaar, met sy ma, Nakkie, op haar sterfbed, keer hy en sy vrou, Ellie, en hul seuntjie Matthew, terug na Suid-Afrika uit Londen om afskeid van Nakkie te neem.

Maar nou moet Juan sy pa, en sy eie tekortkominge, in die gesig staar.

Ontbloting

’n Man Soos My Pa is ’n rolprent wat glad nie terug hoef te staan ten opsigte van sy internasionale eweknieë nie.

’n Verskeidenheid belangrike kwessies word in die film aangepak, maar ek het nog nooit ’n Afrikaanse film gesien wat alkoholisme – en die verskriklike gevolge daarvan – so doeltreffend aanspreek soos in hierdie rolpent nie.

Vervreemding

’n Man Soos My Pa wys hoe die drankduiwel letsels in mense se lewens kerf en Attie (Neels van Jaarsveld/Albert Maritz) se verslawing word uitgebeeld as die tipiese simptome van selfvernietiging, soos persoonlikheidsveranderinge, die oorweldige drang na drank, geheueverlies, bottels wat weggesteek word en onblusbare skuldgevoelens wat aangevuur word deur diepgewortelde minderwaardigheid.

Attie se stryd – en sy seun Juan se verstaanbare onvermoë om dit te begryp – word sterk deur die fliek getrek en tot aan die einde bly alkoholisme die probleem wat op die mees effektiewe manier aangespreek word.     

Verandering

Dit is wonderlik om Neels van Jaarsveld in ’n rol te sien wat hom soos ’n handskoen pas en die vele aspekte wat hy as akteur na die skerm kan bring, werklik ontgin.

Hy beeld, skynbaar sonder moeite, die uiteenlopende aspekte van sy karakter uit: die humor, die liefdevolle en speelse verhouding tussen hom en sy jong seun, en die skrikwekkende akkuraatheid van die lewe van ’n alkoholis.

Van Jaarsveld en Albert Maritz, wat die rol van die ouer Attie vertolk, lewer volgens my die beste vertolkings in die film. En hoewel min akteurs kan kers vashou wanneer dit by Maritz kom, bewys Van Jaarsveld dat hy heeltemal in staat is om dit te doen.

Shimmy Isaacs moet geprys word vir haar natuurlike spel. Sy is die anker van baie tonele en laat nooit toe dat die skip sink nie.

Vordering

’n Man Soos My Pa vereis taamlik dikwels dat ’n jonger en ouer akteur dieselfde karakter vertolk, byvoorbeeld in die rolle van Attie, maar ook Nakkie (Antoinette Louw/Sandra Prinsloo), Juan (Vilje Maritz/Greg Kriek) en Ellie (Lara de Bruijn/Elma Postma).

Die oorgang wat die meeste beïndruk is dié van Van Jaarsveld en Albert Maritz. Die ooglopende ooreenkomste tussen hul karakters ten opsigte van optrede, mannerismes, houding, en hoe hul praat en beweeg, is verbysterend goed. 

Sandra Prinsloo vertolk haar rol met soveel passie en bewys in hierdie rolprent waarom sy werklik een van die grande dames van die silwerskerm is. Haar emosionele karakterdiepte is groot en sy verleen egtheid en deernis aan haar Nakkie.

Vergifnis

Dan is nuweling Greg Kriek goed in sy rol wat woede en teësinnige verdraagsaamheid verg en bied sy karakter die vergifnis wat hy uituindelik gee sonder om geforseer te word.

Dis nie ’n maklike taak om dié rol van Vilje Maritz oor te neem nie, maar Kriek slaag wel goed daarin.

Dan is Elma Postma ’n aangename verrassing in haar rol as Ellie. ’n Mens twyfel nie vir ’n oomblik aan die opregtheid van haar karakter nie, sy verleen styl en sjarme aan iemand wat op die oog af nie so diep soos die ander karakters hoef te delf nie, maar die kamera hou van haar – en sy trek van die mannerismes van haar jonger weergawe sterk deur.   

Gedaanteverwisseling

Deon Lotz se rol as Kolonel Niewoudt is rigied en sommige kykers mag wonder of sy karakter nie ’n ‘oordrywing’ is nie, maar soos Maritz tereg in ’n toneel sê, Niewoudt is deel van die ou bedeling. Mans soos Niewoudt, met ’n militêre agtergrond en beknopte uitkyk op die lewe, het gesukkel met die politieke gedaanteverwisseling wat die land ondergaan het.

Daarom is Lotz se rol, hoewel beperk in opsigte, uitstekend uitgebeeld en dryf sy eie demone hom tot dade waaroor hy berou het – maar nie beheer nie.

Lotz is ’n tour de force in sy brutaliteit en onwrikbaarheid en die terugflitstoneel waar hy finaal met homself worstel, en waarin Antoinette Louw uitstekend is, sal kykers bybly.

Lotz is in staat tot kragtige uitbeeldings van uiteenlopende emosies, en hy bereik weer eens dieptes waartoe min akteurs in staat is in ’n Man Soos My Pa.

Musiek vir die agtergrond

Wat sou die Afrikaanse rolprentbedryf sonder komponis Benjamin Willem gedoen het? Weer is sy werk op internasionale standaard en kan daar nie fout gevind word met sy vertolking van die onderstroom wat regdeur die fliek gehandhaaf word nie.

Die klankbaan is sorgvuldig gekies, maar dis Koos du Plessis se Kinders van die Wind, wat een van die belangrikste oomblikke van die jong Attie se ontnugterde siel gepaardgaan, wat veral gepas is.

Dan is die kostuums vir die verskillende tydperke, wat strek vanaf die laat sewentigerjare tot vandag, van die bestes wat ek al in rolprente, plaaslik of internasionaal, gesien het.

Die produksie ontwerp is ook uitstekend, die stelle is versigtig gekies en die ou karre, ’n liefde wat pa en seun deel, lewer woordelose, ondersteunende rolle.

Versoening

’n  Man Soos My Pa vertel die verhaal van die lewe – die swaar oomblikke wat afgewissel word deur ligte gebeure, komedie en ook byna hartverskeurende liefdesverhale.

Sean Else, regisseur, draaiboekskrywer en vervaardiger, laat homself geld in hierdie rolprent waarin hy die beste uit sy spelers na vore bring en die teks, versorg deur Deon Opperman, is boeiend.

Else kan met reg trots voel op die eindproduk en dat Afrikaanse rolprente, waaronder ’n Man Soos My Pa tel, veral hierdie jaar tot hul reg gekom het.

Doen jouself ’n guns. Gaan kyk ’n Man Soos My Pa.

Inligting

}

Speeltyd

125 min

i

Teks & Regie

Sean Else

Skerms

25

s

Ouderdomsbeperking

13 L V

Akteurs

Albert Maritz, Sandra Prinsloo, Neel van Jaarsveld, Antoinette Louw, Greg Kriek, Elma Postma, Deon Lotz, Shimmy Isaacs, Vilje Maritz, Lara De Bruijn, Vaugn Else, Zonika De Vries

Sterre

3.5/5

Bruto Inkomste

0

Word deel van die vriendekring