Mense Van Die Wind

Bied hoop vir almal

Resensie

Deur

Roelof Bezuidenhout

Mense van die Wind is David Carl Schröder se debuutfilm, en nóg ‘n film wat as gevolg van die Covid-pandemie vertraag is. 

Die film, wat in en om Ermelo geskiet is, volg vir Louw (baie goed vertolk deur die talentvolle Armand Aucamp), ‘n sanger-liedjieskrywer wat ná die dood van sy meisie terugvlug na die familieplaas op Ermelo om homself weer te vind. In die proses herontdek hy nie net ou vlamme nie, maar begin hy ook onwetend nuwe vure stook, onder meer in homself, wat uiteindelik weer na hoop lei.

Die fliek probeer verskeie temas soos glasballe in die lug hou, en tog voel dit só tipies Afrikaans – ons met ons baie “issues”. Almal en hul maat probeer om iets weg te steek, doekies om te draai, van iets te vlug, of na iets te soek.

Die temas wissel van minderwaardigheidsgevoelens tot boelie, die vrees van verwerping en om waarlik lief te hê, en van fisiese (‘n voorstelling van die karakters se onsekerhede en tekortkominge) tot geestelike gesondheidsgebreke.

Oor die algemeen het die akteurs hulself goed van hul taak gekwyt hoewel ek nie dink die rolverdeling was deurgaans geslaagd nie. Ek voel tog dat Aucamp die storie (en sy tekslyne) syne gemaak het, en met soveel ander filmrolle onder die belt, het hy soms ver bo-oor sy mede-akteurs getroon. Greta Pietersen as Sandra (Louw se ou vlam) het ook beïndruk en het gesorg vir welkome komiese verligting.

Pragtige natuurskote het soms surrealisties voorgekom – soveel so dat ’n mens soms twee keer moes kyk om te sien of tonele wel in die natuur en nie dalk op ‘n klankverhoog geskiet is nie. Die kamerawerk was puik en het beslis die beste in elke skoot beklemtoom, maar ek voel dat daar te min natuurlike agtergrond- of atmosferiese klanke was.

Die probleem met te veel glasballe, is dat hulle uiteindelik almal gaan neerdaal, en in hierdie geval gebeur dit op een slag. Ek glo nie dis enigsins realisties dat soveel karakters in so ’n kort tydjie op een slag en as gevolg van slegs een gebeurtenis so te sê handomkeer kan verander nie. 

Van boelie-pa Wim wat skielik na sy seun, Venter, luister en vir Louw onverskoning vra, Venter wat eweskielik die moed het om op die verhoog te klim en Louw te ondersteun, en daarna sonder ‘n gehakkel teen sy pa opstaan en hom op sy plek sit, en skoolboelies wat nuwe respek kry vir hul ‘Varkie’ (hul bynaam vir Venter). En dit alles klaarblyklik te danke aan ‘n liedjie wat ek nie gevoel het genoeg impak het om so ’n sameloop van gebeurtenisse tot gevolg te hê nie.

Tog sal die film aanklank vind by ‘n breë spektrum kyker omdat ons almal met ‘n kleiner of groter deel van een of meer van die karakters sal kan identifiseer. Die storie voel ook so vars soos ‘n Ermelo grashalm na die nuwe reën. En hoewel die verskeie resolusies in die eindtoneel hoogs onwaarskynlik is, mag dit dalk net ‘n saadjie plant dat ‘n beter wêreld tog kan begin by ‘n enkele goeie daad – en dalk is dit genoeg.

Inligting

}

Speeltyd

100 min

i

Teks & Regie

David Carl Schröder

Webtuiste

Skerms

s

Ouderdomsbeperking

13

Akteurs

Armand Aucamp, Diani Gernandt, Juan de Wet, Ramey Short, Greta Pietersen, Renier Basson, Nieke Lombard, Magda van Biljon en Erik Holm.

Sterre

3/5

Bruto Inkomste

0

Word deel van die vriendekring