Jou Romeo

Lopies, Leggings, Liefde

Resensie

Deur

Anna-Marie Jansen van Vuuren

Hierdie tyd van die jaar het Suid-Afrikaanse fliekgehore genoeg gehuil, na hul asems gesnak en op die punte van hulle stoele gesit. The Film Factory ken die fliekmark al te goed en met die uitreiking van Jou Romeo is hulle weerens reg in die kol. Hierdie romantiese tienerfilm bied die perfekte dosis humor, drama en romanse om nie net die tienermark nie, maar ook die meer volwasse mark, fliek toe te lok.

Jou Romeo vertel die verhaal van Yvette (Elani Dekker) en Marko (Ruan Wessels) en hoe hulle paadjies op hoërskool kruis, al is hulle in totaal verskillende ”klieks”. Yvette se droom om Romeo and Juliet op te voer word in die wiele gery wanneer die skoolhoof, Kirby (Pierre Breytenbach) besluit om die dramaklub se begroting heeltemal te skrap om die krieketklubhuis op te gradeer. Die stryd tussen kultuur en sport word dus op die spits gedryf. Yvette en haar dramamaats beraam ’n drastiese plan sodat hulle steeds die Shakespeare verhoogstuk op die planke kan bring. Marko, die skool se krieketheld en boonop die populêrste leerder in die skool, word betrek by hierdie plan en dan begin die poppe dans.

Die filmspan het oor die algemeen goed daarin geslaag om tot vandag se tieners te spreek, veral deur die gebruik van tegnologie en sosiale media. Kyk uit vir flitsende teksboodskappe op die grootskerm wat die kyker nog meer deel van die aksie laat voel. Trouens, een van die karakters, Mildred G (Row-Lean), is ’n sosiale verslaggewer wat die skool se nuutste skindernuus via die web versprei – kan jy nou meer? Maar terwyl Jou Romeo deur middel van slim tegnologiese truuks poog om werklik kontemporêr te wees en tot vandag se tieners te spreek, faal dié aanslag in ’n mate Anders as met hulle oorspronklike (en eerste) tienerfilm, Bakgat, lyk dit of die filmspan nie meer op dieselfde golflengte van hierdie teikenmark is nie en moes hulle dalk ekstra hard gespook het om ’n geloofwaardige rolprent vir dié betrokke ouderdomsgroep te skep.

Hier en daar voel die teks tog te blink gepoets en ek kan nie help om myself af te vra of kinders van vandag so skoon – en soms selfs poëties – praat nie. Gekruide taal sou seker die ouderdomsbeperking opgestoot en verhoed het dat families die fliek saam gaan kyk, so die filmspan het seker die regte plan beet.

Die sterk konnotasie met Shakespeare se klassieke stuk, asook met Baz Luhrmann se moderne rolprentweergawe van Romeo and Juliet, is prysenswaardig en gee die rolprent nog ’n slim teksuele laag. Daar is geen twyfel dat die drie draaiboekskrywers ’n gedugte span vorm nie.

Die twee hoofakteurs skitter in die rolverdeling. Ruan Wessels se natuurlike, moeitelose aanslag kom baie goed op die grootskerm oor en Elani Dekker se eerste filmrol sal verseker nie haar laaste wees nie. Sy het ’n sjarme wat beloof om haar baie gewild onder kykers te maak. Die wisselwerking en romantiese konneksie tussen hierdie twee is ook ongelooflik oortuigend. Die res van die rolverdeling is ook briljant en maak vir ’n wonderlike ensemble-poging. Die eienskappe van elke karakter is fynskerp in die teks uitgelê, maar dis André Velts se besonderse regie en elke akteur se goed deurdagte karakterisering van hulle uiteenlopende karakters, wat werklik lewe gee aan die storie.

Nog twee velde waarin Jou Romeo veral slaag is beeld en klank. Die oorheersende blou en geel kleurafwerkings en hoe die twee hoofkarakters se kleure vermeng soos die tyd aanstap, is ‘n weldeurdagte tegniek wat doeltreffend uitgevoer is. Ook die oorspronklike musiek deur Loki Rothman en Quinn Lubbe is uiters professioneel en funksioneel aangepak. Die liedjies is nuut geskryf en gekomponeer en anders as die meeste Afrikaanse flieks is dit nie net uit bestaande populêre liedjies gekies nie. Ook die instrumentale agtergrondmusiek pas toneel op toneel soos ’n handskoen by die handeling op die silwerdoek.

Meer as bloot net ’n goedvoel-storie, bied Jou Romeo lewenslesse vir jonk en oud wat jou lank sal bybly. Dis ’n afgeronde rolprent wat by ’n groot gehoor aanklank sal vind. Jy kan maar met ’n geruste hart jou fliekkaartjie aanskaf.

Inligting

}

Speeltyd

90 min

i

Teks & Regie

Tina Kruger, Danie Bester en Berdene Burger | André Velts

Skerms

25

s

Ouderdomsbeperking

PG

Akteurs

Elani Dekker, Ruan Wessels, Christopher van der Westhuizen, Row-Lean, Ruan Blom, Carmin Coetzer, Sarahann Doherty, Dirk Stoltz, Diaan Lawrenson en Pierre Breytenbach

Sterre

4/5

Bruto Inkomste

0

Word deel van die vriendekring