Jonathan: Die Movie

Almal se koppie (komedie) tee!

Resensie

Deur

Dee Theart

Komedie is ’n snaakse ding – “no pun intended”. Waar filmgenres soos romanses, dramas en rillers gehore in ’n sekere natuurlike denk- en gedragspatroon stoot, het komedie die vermoë om twee verskillende uitwerkings op ’n gehoor te hê: hulle of te laat lê soos hulle lag, of ’n skeptiese wenkbrou in afkeur te lig. Sallas de Jager en sy span was braaf om ’n komedie geskoei op een persona aan te durf, maar wie beter as Jonathan van Radio Raps-faam om Suid-Afrikaanse gehore hierdie feesseisoen te laat skater?

Die karakter Jonathan (Rikus de Beer) draai alreeds sedert 2013 luisteraars en gehore om sy pinkie met skerp grappe – trouens, sy Facebook-blad het alreeds die 166 000 merk oorskry! Met sy unieke kwinkslae, staaltjies en manier van praat, verkoop hierdie Afrikaanse komediant vertonings lag-lag uit – plaaslik, sowel as in die buiteland. Die tyd was dus ryp dat ’n vollengte Jonathan rolprent die lig sien.

Die rolprent handel kortliks oor ’n dertigjarige oorgewig, alledaagse outjie, Jonathan. Hy is ’n amateur komediant wat hoop op roem en geld, maar geniet die luukshede van sy ouers se huis te veel om werklik ’n sukses van sy lewe te wil maak. Vernedering staar hom in die gesig wanneer sy komediedrome nie verwesenlik nie en hy boonop sy pa se kar afskryf na ’n rowwe aand. In sy eie woorde: “Die lewe is nie altyd koue bier en sonskyn nie!” Sy lewe verander handomkeer wanneer sy ouers hom uit die nes skop om sy eie potjie te gaan krap. Dis dán wanneer die werklike sports begin. Jonathan word ’n karwag, ontmoet die meisie van sy drome en jaag sy komedieroeping verbete na. Of dinge wel vir hom uitwerk, sal jy maar self moet gaan kyk.

Sallas de Jager het met Jonathan bewys dat sy talente as vervaardiger, regisseur en skrywer verder strek as periode dramas (sy vorige films sluit in Free State, Verraaiers en Roepman). De Jager, John-Henry Opperman en Rikus de Beer se idee om ’n Jonathan-trilogie tot stand te bring, is geniaal. Suid-Afrika het lank gewag vir ’n komedieheld. Iemand wat ons kan laat lag, kan laat beter voel oor onsself en kan laat glo dat drome waar kan word. Wat hierdie karakter verder briljant maak, is die feit dat hy so ongelooflik identifiseerbaar is – ’n mens kan bloot nie help om van hom te hou nie en soos die storie vorder, wil die kyker net die beste vir arme Jonathan hê. Die kyker word daardie irriterende pa langs die laerskool se rugbyveld wat skree vir sy 9-jarige laaitie om vinniger te hol en die drie te druk.

Benewens Rikus de Beer wat sy karakter soos ’n handskoen aantrek en verbaas met sy gemaklikheid voor die kameras, is die res van die rolverdeling werklik ook uitmuntend. Twee akteurs wat spesiale melding verdien vir hulle oortuigende spel, is Beáte Opperman (wat Jonathan se liefdesbelangstelling, Sonja, vertolk), sowel as Paul Eilers (wat die hoof karwag, Hartogh, vertolk). Ek dink wel die produksiespan het te veel staat gemaak om groot name (soos Lizz Meiring, Frank Opperman en Brümilda van Rensburg) by die rolverdeling in te sluit om te help met die fliek se bemarking. Alhoewel hierdie akteurs uitstekend is, is hulle speelkans so klein dat dit nie werklik saak gemaak dat hulle A-lys akteurs is nie. Die kwaliteit van die rolprent sou dus glad nie geaffekteer gewees het of hulle ingesluit of uitgelaat was nie. Rikus de Beer steel die “show” en dis mos hoe dit hoort met so ’n persona-gebaseerde rolprent.

Die rolprent se afronding is onopgesmuk en mooi op die oog. Eduan Kitching het nou eenmaal ’n talent vir die visuele en die helder kleurafronding van Jonathan werk fantasties. Die verwerking deur Quinn Lubbe is ook sonder lawwe truuks aangewend en pas goed by die styl an aanslag van die rolprent. Dawie de Jager (wat saam met broer Sallas deel van die musiekgroep Klopjag is), kwyt hom goed van sy taak as meester van die klankbaan en die musiek word ’n verdere dryfveer vir die aksie wat afspeel.

Die teks probeer nie om snaaks te wees nie en dis wat die komedie so wonderlik maak. Daar is werklik ’n grap of tien vir almal en die storie sal jou vasgenael hou van begin tot einde. Jonathan is ’n móét-sien hierdie Desember vakansie!

Inligting

}

Speeltyd

97 min

i

Teks & Regie

Sallas De Jager, Rikus De Beer, John-Henry Opperman | Sallas De Jager

Skerms

25

s

Ouderdomsbeperking

16 L

Akteurs

Rikus De Beer, Beáte Opperman, Paul Eilers, Brümilda van Rensbrg, Rika Sennett, Eric Nobbs, Frank Opperman, Lizz Meiring, Jacques Bessenger, Anel Alexander, Albert Pretorius, Elton Landrew, Marnus Kruger, Francois Viljoen

Sterre

4/5

Bruto Inkomste

0

Word deel van die vriendekring