Jagveld

Aksiebelaaide Avontuur in Afrikaans

Resensie

Deur

Anna-Marie Jansen van Vuuren

Suid-Afrikaanse gehore wag al baie lank vir ’n aksieprent in Afrikaans. Ons is oorlaai met (en oormoeg van) romantiese komedie rolprente, so dis ’n welkome verandering om ’n ander genre vir ’n slag in Afrikaans op die grootskerm te sien. En wie beter as die bobaas misdaad- en riller-storieverteller, Deon Meyer, om die leisels as skrywer te neem? Jagveld spog met ’n skitterende rolverdeling en polsende aksie in ware Quentin Tarantino-styl wat die kyker uitdaag.

Jagveld se hoofkarakter is ’n vrou wat gatskop. In ’n wêreld waar mans meestal as die brawe helde uitgebeeld word, is dit ’n heerlike verandering om ’n heldin op die grootskerm te sien. Emma le Roux (Leandie du Randt Bosch), lyk op die oog af kuis en saggeaard. Maar hierdie laerskooljuffrou se ware kleure kom te voorskyn wanneer sy in ’n lewensbedreigende situasie geplaas word. Op pad na haar familieplaas in die Groot Karoo na ’n liefdesteleurstelling, kruis sy paaie met ’n dwelmsmokkel bende, wat nie skroom om te moor en aan die verkeerde kant van die gereg te baljaar nie. Emma word hulle teiken, maar die prentjie verander baie vinnig as sy besluit om húlle die prooi te maak.
 
Jagveld pols met ’n energie wat baie lanklaas in Afrikaanse prente te bespeur was. Deon Meyer se kenmerkende spanningsvolle elemente wat vir sy beroemdheid as skrywer gesorg het, word uitstekend verplaas na die draaiboek. Anders as met sy vorige flieks Die Laaste Tango en Die Ballade van Robbie de Wee, wat baie van sy bewonderdaars teleurgestel het, het Meyer werklik met Jagveld op sy niche as skrywer gefokus en dit wys. Hy is nou maar eenmaal ’n meester van die spanning/riller genre en weet net hoe om die kyker op die punte van hulle stoele te hou en tot op die laaste oomblik te laat raai hoe die rolprent sal eindig. En moenie dink hy skroom om die Afrikaanse taal in sy volle, realistiese glorie te vertoon nie. ’n Paar ou tannies sal verseker die bendelede se monde met seep wil uitwas! Realistiese taalgebruik is wat ’n goeie draaiboekskrywer van ’n uitsonderlike een onderskei. Die aksie skroom ook nie van hierdie realiteit af weg nie. Maak jou reg vir skop, skiet en d*nner!

Meyer se briljante teks kry lewe deur die uitmuntende kamerawerk. Daar is ’n paar filmskote (veral die nabyskote wat met soveel aanleg en presisie vasgevang is) wat internasionale aksieprente ore aansit en hoendervel by die gehoor skep. Die meesleurende musiek- en klank-effekte is nog ’n afdeling waarin Jagveld met vleuende vaandels slaag. Die musiek gee op baie plekke die gevoel van ’n tipiese “Werstern” rolprent weer en komplementeer die aksie op die skerm uitstekend. Daar is ook slim te werk gegaan met die fliek se tempo. Op tye het ek begin wonder of die rolprent nie te stadig beweeg nie, maar dan word ’n mens baie vinnig op jou plek gesit met ’n drafpas sekwens wat jou weer na jou asem laat snak. Die stil periodes van die jaagtog gee die kyker dus ’n blaaskans voor die volgende adrenalienpompende toneel.

Die rolprent leun swaar (dalk plek-plek te swaar) op Amerikaanse aksieprente se manier van dinge doen en vat dan weg van wat ’n werklik unieke kykervaring kon gewees het. Daar is oomblikke en dialoog wat dalk as onrealisties geïnterpreteer kan word. Dan weer, wat is ’n goeie aksieprent dan sonder pittige “one-liners” en waaghalsige en ietwat onrealistiese toertjies? Gehore hou nou maar eenmaal daarvan as hulle kan identifiseer met dit wat hulle sien en in Jagveld gaan die kyker heelwat elemente en truuks sien wat hulle al vantevore in bekende oorsese aksieprente gesien het. Behalwe, dié keer is dit in Afrikaans! Die vervaardigers het dalk ’n bietjie te veilig gespeel deur so baie elemente van byvoorbeeld Quentin Tarantino direk te gebruik, maar ek neem hulle nie kwalik vir die besluit nie.

Die ensemble akteurs is uiteindelik die draers van hierdie opwindende film. Du Randt Bosch wys vir ons wat in haar as aktrise steek. Sy het tot nou toe rolle vertolk wat nie te veel om die lyf gehad het nie en eintlik te maklik vir haar was. Met die uitdagende rol van Emma wys sy vir kykers hoe ’n veelsydige aktrise sy is. Emma herinner sterk aan ’n kombinasie tussen Uma Thurman in Kill Bill en Angelina Jolie in Tomb Raider. Dié aksierol pas haar soos ’n handskoen. Dis heerlik om ’n vroulike aksieheldin in Afrikaans te sien en die kyker word werklik meegesleur deur Emma se Karoo-reis.
 
Die bendelede verdien ook ’n applous. Die bende bestaan uit Bosman (Neels van Jaarsveld), Baz (Tim Theron), Jay (Bouwer Bosch), AJ (Danie Putter), Boela (Edwin van der Walt) en Piet (Luan Jacobs). Elkeen van hierdie ses akteurs het harde voorbereidingswerk gedoen om die geweldadige tonele oortuigend te kon vertolk. Hulle spelvernuf word tot op die uiterste beproef en veral Neels van Jaarsveld in die rol van Bosman staan uit. Die rol as skurk pas hom uitstekend en die karakter kry lewe in sy bekwame hande. Klein nuanses, ingeoefende gesigsuitdrukkings en sy bulderende stemtoom, maak van Bosman ’n karakter waaroor daar nog lank gepraat sal word. Kykers sal ook bly wees om Tertius Meintjies weer op die grootskerm te sien in die rol van Emma se pa, wat hy met deernis en emosie vertolk.

Byron Davis, meestal bekend vir redigering en na-produksie (Durban Poison, Seun, Alles Wat Mal Is), mag maar meer gereeld regie behartig. Alhoewel hy nog nie ’n ervare regisseur is nie, sal Jagveld verseker nog baie deure vir hom oopmaak. Hy het slim te werk gegaan om die beste uit sy akteurs te kry en was duidelik baie betrokke by al die aspekte van die produksieproses, insluitend die redigering. Die eindresultaat is ’n goed afgeronde produk van die hoogste gehalte.

Maak jou hardloopskoene vas, sodat jy gereed is vir die jaagtog waarop Jagveld jou gaan neem!

Inligting

}

Speeltyd

90 min

i

Teks & Regie

Deon Meyer | Byron Davis

Webtuiste

Skerms

25

s

Ouderdomsbeperking

16 L V

Akteurs

Leandie du Randt Bosch, Neels van Jaarsveld, Tim Theron, Edwin van der Walt, Luan Jacobs, Bouwer Bosch, Danie Putter en Tertius Meintjies

Sterre

4.5/5

Bruto Inkomste

0

Word deel van die vriendekring