Golden Globes

Poor Things raap die groot toekenning toe onder Barbie se neus weg

Nuus

Deur

Anna-Marie Jansen van Vuuren

Die Golden Globe-toekennings het hierdie jaar ʼn heel nuwe baadjie aangestrek. In die verlede het die Golden Globes se jurie uit lede van die Hollywood Foreign Press Association (HFPA) bestaan. Hierdie vereniging het egter ontbind nadat ʼn volskaalse ondersoek grootskaalse bedrog en korrupsie in hulle geledere ontbloot het. Hierdie bewyse het gekom nadat die HFPA reeds in omstredenheid gehul was weens hul tekort aan rasse-diversiteit. Nadat die vereniging in Junie 2023 ontbind het, is die toekenningsgeleentheid aan ‘n privaat onderneming, Dick Clark Productions verkoop. Dick Clark Productions het die Golden Globes dus hierdie jaar aangebied en die jurie was 300 nuwe internasionale beoordeelaars wat uit 76 lande kom.

Die rolprent Oppenheimer het met vyf toekennings as die grootste wenner van die aand by die Golden Globes weggestap. Dit was vir beste drama rolprent, beste regisseur (Christopher Nolan), beste mansakteur (Cillian Murphy), beste ondersteunende mans-byspeler (Robert Downey Jnr) en beste klankbaan (vir komponis Ludwig Göransson).

Terwyl die Barbie-rolprent met die meeste benoemings vir die Golden Globes gespog het, het die fliek uiteindelik net met twee toekennings weggestap: een in die nuut-geskepde kategorie, “beste filmiese en loket prestasie”en die ander in die “beste oorspronklike liedjie”kategorie gewen. Drie uit die ses liedjies wat in hierdie kategorie benoem is, het nogal uit Barbie gekom, so ʼn mens het nogal ʼn wen in hierdie kategorie verwag. “What was I made for” van Billie Eilish en Finneas O’Connel het met die louere weggestap. Juis omdat Barbie soveel van die benoemings in die beste oorspronklike liedjie kategorie gekry het, en die rolprentkritici sowel as kykers baie beindruk het, het almal (beroepswedders inkluis) verwag dat dit met die prys in die kategorie “beste musiekblyspel of komedie” sou wegstap. Die rolprent Poor Things het toe egter hierdie eer voor Barbie se neus weggeraap. Emma Stone speel die hoofrol in Poor Things, en sy is ook as die beste aktrise in ʼn komedie-rolprent by die Golden Globes bekroon.

Nog ʼn element wat van die Globes uitstaan, is dat die aktrise Lily Gladstone as “beste aktrise in ʼn drama-rolprent” aangewys is. Sy het die rol van Gladstone is die eerste aktrise uit die Amerikaanse inheemste bevolking wat ‘n Golden Globe-toekenning ontvang het. Sy het in die Blackfeet Reservaat in die Noord-Amerikaanse staat, Montana, grootgeword. Met die ontvangs van haar trofee, het Gladstone die eerste paar sinne van haar toespraak in haar eie taal, “Blackfeet”, gelewer. Daarna het sy aan die gehoor gesê dat sy dankbaar is dat sy haar taal op so ‘n manier kan gebruik, want in die vroeë dae van Hollywood, het die rolprentvervaardigers die inheemse akteurs Engels laat praat, maar dan die dialoog agteruit gespeel om dit soos ʼn ander taal te laat klink.

Met die ontvangs van een van die toekennings vir Barbie, het die aktrise en vervaardiger Margot Robbie fliekgangers bedank wat in 2023 die moeite gedoen het om na ‘n tradisionele fliekteater te ry en die fliek te gaan kyk. Barbie en Oppenheimer word beskou as die twee flieks wat tradisionele rolprentteaters gered het toe mense gedink het dit gaan uitsterf.

WORD DEEL VAN DIE

Nie-Winsgewende Organisasie