Gaia

Vervaardigers leer iets nuut oor die toekoms van fliekmaak

Nuus

Deur

Rick Bronkhorst

Bioskoop se Rick Bronkhorst het gesels met Tertius Kapp, skrywer en een van die vervaardigers van Gaia (2021), oor die aandele-verdeling wat hulle toegepas het tot voordeel van die filmspan.

Gaia het vanjaar SAFTA-toekennings ontvang vir beste film, beste regie, beste kinematografie en beste klankbaan.

 Geniet die gesprek saam.

V: Vertel vir my asseblief meer oor die aandeleverdeling van Gaia?

A: Ons was nog altyd naby aan ons filmspan, ’n soort familie wat al jare saam kom en almal kreatief bydra tot die eindproduk, gewoonlik met 6-dag weke en 12-uur dae. En dis nou maar net ‘n feit dat baie vervaardigers die crewuitbuit, en dit het ons ontstel. Maar aan die ander kant het ons nie genoeg begroting gehad nie, maar ons was oortuig ons kon ’n goeie film maak. Dus het ons die minimum finansies gekry met ’n pre-sale, ’n verminderde fooi betaal en die span as aandeelhouers betrek gebaseeer op die tyd, arbeid en toerusting wat hulle belê.

V: Waar het julle ‘n span gekry wat bereid was om so ‘n transaksie mee te maak?

A: Van ons ken mekaar al van teater af, 10 jaar of langer. Ek, Jaco, Rocco, Mariechen, Pierre-Henri byvoorbeeld. Baie van die groep het saamgekom op die reeks Die Spreeus.

V: Aan watter mark wou julle die fliek verkoop en hoe het julle te werk gegaan om dit te doen?

A: Ons het geweet met ’n eco-horrorgaan ons nie ’n tipiese kommersiële Afrikaanse gehoor vang nie. Maar ons het ook geweet dat daar ’n wêreldwye niche gehoor is vir “arthouse horror”. Ons argument was dat jy ‘n film teen n goeie prys kan maak en oorsee verkoop en steeds n wins maak. Dit was nie heeltemal so eenvoudig op die ou end nie. Maar ons wou daai konsep, ideaalgesproke, deel maak van Gaia. Ons het op die ou end ‘n “pre-sale” gedoen aan MNet om basiese kostes te dek. Daars heelwat gevestigde kostes wanneer dit kom by ‘n begroting: vervoer, akkommodasie, skietplekke, spyseniering. Al het jy die toerusting en mense wat bereid is om vir die minimum en aandele te werk, het jy steeds ‘n redelike onkoste om aan te gaan.

V: Hoe presies het julle te werk gegaan met die aandele-verdeling?

A: Relatief eenvoudig. Mense wat van die begin af deel was van die projek het die opsie gehad om helfte van hulle fooi op te gee as ’n belegging. Hulle is dus 50% betaal (dit was bietjie meer ingewikkeld met toerusting). Dit het die totale belegging gevorm en jou aandeel is bereken met ’n eenvoudige deelsom. Natuurlik was daar nog ander regte-verdelingsooreenkomstes met M-Net wat ’n impak gehad het, maar op sy eenvoudigste het ons hele span dan die film se inkomste gedeel volgens hulle insette.

Maar dit was natuurlik n groot risiko vir die aandeelhouers. Meeste Suid-Afrikaanse films verkoop omtrent nie in die buiteland nie. En dan het ons nog ’n interessante ekstra struikelblok gehad genaamd COVID-19. Ons is onderbreek in die middel van produksie (wat nogals ironies was, aangesien die film eintlik oor ’n infeksie gaan).

Kortom, was dit nie duidelik of die belegging wat mense gemaak het sou uitbetaal nie, tot dit het, en toe het dit mooi uitbetaal.

Dit voel nogals goed. Dit voel lekker om die mense wat kreatief deel is van n projek te kan beloon daarvoor. Plus nou en dan nog n betaling te kan maak jare na die film se vrystelling.

Boonop het ek geluister na ’n praatjie van Glen Bresler gedurende die Silwerskermfees waar hy verduidelik het dat binne bepaalde omstandighede, die opbrengs op beleggings in plaaslike films nie belasbaar is nie. Die klousule is intussen geskrap, maar ons kon nog voordeel trek daaruit, en dit was natuurlik ook ’n bonus.

V: Was daar addisionele stories wat uit die nuwe verwikkeling gekom het?

A: Ja, dit het gebeur net na COVID-19 en baie van die spanlede het om verskeie redes die geld broodnodig gehad. Die toewyding wat mens kry vanaf jou span is ook soveel meer as gevolg van hulle gedeelde eienaarskap.

Met die huidige verwikkelinge in die VSA, blyk dit dat dié model van filmmaak wêreldwyd ’n sterk toekoms het. Die Writers Guild of America (WGA), die Screen Actors Guild-American Federation of Television and Radio Artists (SAG-AFTRA) en International Alliance of Theatrical Stage Employees (IATSE) se staking draai onder andere daaroor dat alle filmmakers beter betaal moet word vir hul tyd en dat die vervaardigers ’n deel van hul aandele moet afstaan aan die span.

Dus ondersteun hulle basies die idee wat die South African Guild of Actors (SAGA) al vir jare probeer gewettig kry: dat akteurs betaling moet ontvang indien ’n fliek weer uitgesaai word op stromers en TV-kanale. Net soos wat gebeur indien ’n liedjie gespeel word op radio op enige ander plek gebruik word. Die wins wat ontgin word, word verdeel elke keer as die musiek stuk weer gespeel word.

Hopelik sal ander filmvervaardigers die waarde insien in so ’n benadering: dat die sukses (maar ook die risiko) van ’n projek met kreatiewe mede-werkers gedeel kan word.

Punte aan die vervaardigers van Gaia wat nou n toonbeeld geword het in die bedryf

WORD DEEL VAN DIE

Nie-Winsgewende Organisasie