Fiela se Kind

“In ʼn tyd waar ʼn mens moes stilbly, praat hul oë meer as wat woorde sou kon”

Resensie

Deur

Anna-Marie Jansen van Vuuren

As daar net één prentjie kon wees wat ek moes uitsonder wat my ewig sal bybly uit die 2019 rolprentweergawe van Fiela se Kind, sou dit die beeld van Fiela tussen die aalwyne wees. Sterk, eiewillige Fiela Komoetie wie se hart skéúr tussen die aalwyne. Nadat sy vir só lank die pyn binne moes hou, met net haar oë wat vir ons ʼn blik van haar smart gegee het. Dié roerende hervertelling van die reeds ikoniese verhaal is die handewerk van regisseur Brett Michael Innes, wat nes Fiela op haar werf, die leisels stewig vasgehou het met hierdie produksie.

Die storie van Fiela, wie se hanskind, Benjamin, van haar weggevat word nadat ʼn paar sensusopnemers die teenwoordigheid van ʼn wit kind in haar gesin bevraagteken, is reeds alombekend. Buiten dat dit al vir meer as twintig jaar ʼn voorgeskrewe werk op skool is, het regisseur Katinka Heyns dit in 1987 die lig laat sien op die silwerdoek, en dit is ook al telkemale op die verhoog opgevoer. Dus is die vraag al telkemale aan Innes gevra waarom hy gekies het om wéér die storie te vertel. Sy antwoord: Dié Dalene Matthee verhaal het hom só geroer as kind, dat hy weer vir Fiela ʼn stem wou gee in ʼn hedendaagse konteks – waar die politieke klimaat ons steeds dwing om kritiese vrae te vra oor rasseverhoudings in die samelewing.

Nes Innes se vorige rolprent, Sink (2015), gebruik hy die karakters se oë om die storie te vertel. Wanneer Fiela deur Benjamin se “nuwe” bospa, Elias, verneder word, wanneer Benjamin/Lukas worstel met wie hy eintlik is, en wanneer Nina haar kosbare hare verloor, is dit slegs hul oë wat die waarheid van hul emosie ontbloot. Só vermy Innes melodrama in sy vertelling, en bring eerder soos C. Louis Leipoldt en A.G. Visser hulde aan die mag van ʼn mens se oë om as sielsvensters op te tree.

Máár hierdie tegniek kan slegs werk as dit gesteun word deur weldeurdagte kamerawerk en uitmuntende toneelspel. Akteurs Wayne Smith (Benjamin/Lukas), Luca Bornman (jong Benjamin), Wayne van Rooyen (Selling), Cindy Swanepoel (Barta van Rooyen) en Melissa Willerling (Nina van Rooyen), moet uitgesonder word in terme van hul spel, terwyl Drikus Volschenk groot skoene gehad het om vol te staan om André Rossouw se 1987 vertolking te ewenaar. Die toneelspel kroon behoort egter aan Zenobia Kloppers, wat haar rol met deernis speel – en voorwaar die fliek drá. Die tema van moederliefde wat oor kleurgrens strek en die spesiale band wat Fiela met Benjamin koester, is deur die onderskeie akteurs, maar veral Kloppers, tot reg gebring. Sy is ʼn deurwinterde verhoogaktrise wat vir té lank van die grootskerm verskuil was.

Weereens sou ons nie die storie so fyn kon waarneem, as dit nie vir die kinematografie van Tom Marais was nie. Marais, wat reeds legendaries vir sy bydrae tot die onlangse plaaslike filmbedryf is, gebruik nabyskote om vir ons die karakters se pyn én vreugde te wys. Terwyl hy ons wegvoer vanaf die wye ruimtes van die plattelandse Karoo landskap tot die beknopde ruimte van die hof en later die vreemde wêreld van die bos, word ons met elke karakter se stryd gekonfronteer. As kyker moet ons gereeld deur vensters en deure na die hoofkarakters kyk, asof die regisseur en kinematograaf ons dwing om ook tot ‘n mate vasgekluisder te voel in hierdie wêreld – waaruit nie Benjamin óf Fiela kan ontsnap nie. Intussen begelei Kyle Shepherd met sy klankbaan ons deur die emosies wat die karakters ervaar en speel die viool die snaar van eensaamheid.

Die produksieontwerp is minimalisties, tog met ʼn kenmerkende styl wat die gevoel van ʼn Europese kunsrolprent skep.

My grootste kritiek op die rolprent is die keuse van die donker beligting en kleurgradering van die rolprent. Ek verstaan dit poog om ʼn spesifieke gevoel te skep, maar dit het beteken dat sekere sleutel elemente van die storie vir my verlore geraak het. Ek het byvoorbeeld eers met die tweede kyk van die fliek gesien wat Benjamin op die boom gekerf het, en ek moes my weer na die boek wend om my te herinner waaraan een van die karakters se skielike sterfte toegeskryf kon word. Terwyl die 2019 weergawe van die fliek heeltemal op sy eie bene staan, en nie met die weergawe uit die tagtigerjare vergelyk moet word nie, het ek tog aan die einde van die fliek effens teruggehunker na die einde van die Heyns rolprent.

Die tema van die fliek mag dalk liefde wees, maar wat vir my net weereens uitgestaan het, is die rol van “mag”. Die mag van ‘n krom vingerwysing om jou hele lewe te verander. Die mag van ʼn rolprent om jou tot jou diepste wese te roer. Dít is tog die mag van stories.

Inligting

}

Speeltyd

126 min

i

Teks & Regie

Brett Michael Innes

Skerms

60

s

Ouderdomsbeperking

13 L P V

Akteurs

Zenobia Kloppers, Luca Bornman, Wayne Smith, Wayne van Rooyen, Cindy Swanepoel, Drikus Volschenk

Sterre

4.5/5

Bruto Inkomste

3174002

Word deel van die vriendekring