Dis ek, Anna

Kaalgestroopte meesterstuk

Resensie

Deur

Martie Bester

Terwyl hy vlerksleep by haar ma, is dit werklik Anna, Johanna se dogter, wat Danie du Toit se aandag trek. Met sy windmakerhouding en sjarme, is Johanna maklike prooi. Maar hy stel nie werklik in haar belang nie, sy lyf hunker na die 12-jarige Anna.

Sara Blecher, wat die regie van Dis ek, Anna behartig het, skram nie weg om vir die ontworteldes van die samelewing ’n stem te gee nie, soos haar ander veelbekroonde rolprente Ayanda, Othelo Burning en die dokumentêr, Surfing Soweto, getuig.

Sy is ’n passievolle regisseur, wat in haar relatiewe kort loopbaan nog nie ’n voet verkeerd gesit het ten opsigte van haar keuse van materiaal – en die uitvoering daarvan nie.

Storie en spel

As nuweling tot die Afrikaanse filmbedryf, is Blecher reeds bekroon met drie prominente toekennings vir Dis ek, Anna by die 2015 kykNET Silwerskermfees, naamlik Beste Regisseur, Beste Film en Beste Akteur (Morné Visser in die rol van Danie du Toit, Anna se stiefpa).

Blecher se intensiewe navorsing oor seksuele mishandeling is duidelik op die skerm te sien, asook haar klem op storie en spel. Hoewel die agtergrondtonele sterk simboliese boodskappe oordra, veral Anna se poppe, bied dit eerder ’n kunstenaarsdoek waarteen die dramatiese verhaal afspeel.

Gebaseer op die gelyknamige outobiografiese roman deur Anchien Troskie, is Dis ek, Anna ’n reis in die psige van die slagoffer van seksuele mishandeling en die gevolge van hierdie dade op weerloses.

Skuldgevoelens, en ook die onwillekeurige reaksie van die liggaam ten spyte van ongevraagde seksuele indringing, dwing die meeste slagoffers tot stilswye. Asof hul tonge uitgesny is.

Prooi vir n roofdier

Anna word in ’n ongelukkige huis in Bloemfontein groot. Haar ma, Johanna Bruwer (Nicola Hanekom) skei van Hendrik (sterk vertolk deur Eduan van Jaarsveldt), met wie Anna ’n nou band het.

Met haar en Anna se lewens aan skerwe, is haar ma desperaat om hul armoede te verlig en om ‘liefde’ te vind, en gevolglik val sy vir die sjarmante, vriendelike sakeman, Danie du Toit.

Maar reeds vanaf die begin, spook Anna by Danie, briljant vertolk deur Morné Visser – en die eerste keer wat hy haar sien, laat ’n mens se nekhare rys – en besef ’n mens die luiperd wil nie sy sappigste vangs uit die oog verloor nie.

Visser verander deurentyd gedaante as ‘roofdier’, van ’n luiperd wat geduldig wag; ’n haai wanneer hy ’n onskuldige swembadspeletjie onderbreek; ’n spinnekop wanneer hy Anna se liggaam grillerig in sy web vang; en ’n verveelde kat wat stelselmatig belangstelling in sy prooi verloor – haar vierjarige sussie spreek nou meer tot sy begeertes.

’n Deurslaggewende oomblik in die rolpent, wat tot min simpatie teenoor Anna se ma lei, is wanneer Johanna, ten spyte van haar kind se welstand, Danie se aanbod tot die die huwelik aanvaar, nadat sy sien hoe hy aanlê by ’n jong meisie.

Ten spyte daarvan dat sy besef hy is allesbehalwe ’n ridder, oortuig hy haar, pleitend en op sy knieë – om met hom in die huwelik te tree.

En deurentyd hou Anna die gebeure dop – stom van vrees, ongeloof en verlies.

n Liggaam is nie net n lyf nie

Charlenè Brouwer is uitstekend as Anna, ’n veeleisende rol wat sy met durf aanpak – haar moed is tasbaar op die skerm.

Wat my veral opgeval het met haar en Visser se vertolkings, is hoe hul kragtige uitdrukkings bygedra het tot die sukses van hul spel. Hul albei het oë wat spieëls van hul emosies is – Brouwer s’n groot en weerloos en wat siel verleen aan haar karakter se stryd.   

En dan is Izel Bezuidenhout hartverskeurend goed in haar rol as die jong Anna, gebroke, braaf, uitdagend, opstandig, gedweë, goedhartig, verslae. 

Geen grense nie

Wanneer Anna klaar weerwraak gepleeg het, en haar vertroostende advokaat ,Joubert van Heerden (Drikus Volschenk), by haar kuier, beskou sy steeds haar liggaam as ’n offerande.

Maar wanneer Joubert die verwronge beeld wat sy van haarself geskep het stuk vir stuk afbreek, geduldig met haar is en haar nié net as ’n lyf beskou nie, kan sy waarlik rou en vertroosting vind in die arms van ’n man wat niks van haar verwag nie.

Om te wreek of nie?

Intussen speel die fliek af teen ’n kragtige subteks van ’n polisie-offisier, gespeel deur die onverbeterlike Marius Weyers as Windhond Weber, wat die dood van ’n baba weens verkragting ondersoek en die verdagte moet opspoor.

Hy hanteer ook Anna se saak, en parallelle word getrek tusen dié twee misdade – albei slagoffers het nie stemme nie, albei oortreders ontbreek aan berou, albei se maats, ten spyte van hul man of kêrel se gruweldade, laat hul toe om van die gereg te ontsnap.

Vir Windhond word hierdie sake, kort voor sy aftrede, ’n geleentheid om werklik as geregsdiener op te tree. 

Storie bo als

Blecher verander as regisseur subtiel die landskap van Afrikaanse films met Dis ek, Anna. Sy trap oor die grense van reeds verkende genres en bied ’n vars, kontemporêre blik aan kykers. 

Die filmspan is sorgvuldig gekies, met die 2015 Hertzogpryswenner vir Drama, Tertius Kapp, wat behendig sy eerste film-draaiboek behartig. Sy aanslag tot drama, en die belangrikheid van storie en spel versus ‘die res’ word beklemtoon – en dit ‘vertaal’ goed na die groot skerm. 

Dié storieverteller span deurentyd die verhaal styf en hou die leisels knap vas, ook met die subteks met Weyers aan die spits. 

Ten spyte van die rolprent se ouderdomsbepreking van 16 – blykbaar moet kykers in watte toegedraai word wanneer die werklikheid aangespreek word – is hierdie ’n rolprent wat almal moet gaan kyk.   

In Dis ek, Anna bestaan kindwees, popspeel, verlief raak en om beskerm te word glad nie.

En gehore moet beslis nie verwag om gepaai te word nie.

Inligting

}

Speeltyd

120 min

i

Teks & Regie

Tertius Kapp |Sara Blecher

Skerms

25

s

Ouderdomsbeperking

16 L V

Akteurs

Charlenè Brouwer, Marius Weyers, Nicola Hanekom, Izel Bezuidenhout, Morne Visser, Eduan van Jaarsveldt, Drikus Volschenk, Ilse Klink Elton, Landrew Hykie Berg, Elize Cawood

Sterre

5/5

Bruto Inkomste

0

Word deel van die vriendekring