Die Sneeukoningin 2

Dié slag speel die trol die hoofrol

Resensie

Deur

Roelof Bezuidenhout

Die Sneeukoningin 2 is steeds gebaseer op Hans Christian Andersen se The Snow Queen van 1845, en die storie word verder vertel, maar hierdie keer met ’n groter fokus op die karakter van Orm, die trol.

Die Sneeukoningin is verslaan, en die trolle kan rustig voortgaan met hul lewens. Ongelukkig laat Orm se alter ego hom in die sop, en moet hy planne beraam om hom weer daaruit te kry. Hy gaan voort om die verkeerde lewenskeuses te maak, en in plaas daarvan om na sy vriende te gaan vir hulp, maak hy staat op leuens en grootpraterigheid wat hom net nóg dieper in die moeilikheid bring. Maar die waarheid seëvier tog aan die einde, en goed oorwin die kwaad wanneer Orm dit regkry om wel op ’n eerlike manier sy vriende van die ewige koue te red.

Behalwe vir die bekende karakters wat reeds in die eerste aflewering van Die Sneeukoningin aan gehore bekendgestel is, maak nuwe kreature soos Generaal Arrog, Ouma Rose en Prinses Maribel nou ook hul buiging. Dieselfde Russiese vervaardigers is steeds aan die stuur, met Wizart Animation en die Bazelevs-groep wat sorg vir animasie van ’n baie hoë gehalte.

Die oorspronklike The Snow Queen 2 is reeds aan die begin van 2015 vrygestel en daar is besluit om nes met die eerste aflewering, ’n Afrikaanse ekwivalnt die lig te laat sien. Met dieselfde geliefde stemme van Afrikaanse bekendes soos Pierre Breytenbach (in die hoofrol as Orm), André Stolz, Rina Nienaber, Richard van der Westhuizen, Lochner de Kock en Christine en Victor Voorendyk, om net ’n paar te noem, kan gehore weereens uitsien na uitstekende Afrikaanse stemtalent.

Riana Wilkens het haarself goed van haar taak gekwyt met die stemregie. Anders as in Bioskoop se resensie oor Die Sneeukoningin, voel ek die oorspronklike teks is dié keer tog suksesvol deur Kobus Geldenhuys in Afrikaanse spreektaal oorvertaal. Die mondbewegings en stemme is perfek gesinkroniseer – iets waarvoor die ou SAUK veral in die vroeë tagtigerjare wêreldbekend was.

Ek voel die storie self was baie basies, en regtig net gemik op die jongspan. Ek sal erken dat ek nie ’n groot aanhanger van kinderprente is nie, en dat ek meer aanklank vind by animasiefilms met meer volwasse humor, soos dié van Shrek. Ek wonder ook of dit nodig was om Die Sneeukoningin te moes sien, om Die Sneeukoningin 2 meer te waardeer – dus het ek dalk hier en daar ’n bietjie verlore gevoel. Juis om hierdie rede het ek ’n vriendin en haar twee jong seuns saamgesleep vir ’n tweede opinie vanaf die eintlike teikenmark. Die blote feit dat dié twee letterlik regdeur die fliek op die punte van hul teaterstoele vasgenael gesit het (dit het my ’n paar keer laat wonder of hulle nog asemhaal), sê eintlik alles! Albei het dit terdeë geniet, maar volgens Hanro Kruger (7), was die titel misleidend omdat die fliek eintlik glad nie oor die Sneeukoningin gegaan het nie. Ek dink veral vir iemand wat nie die eerste een gesien het het nie, kon dit jou nog meer verwar het. Tjaart Kruger (10) voel weer dat die sentrale boodskap van “as jy jok gaan slegte dinge met jou gebeur, en dus is dit altyd beter om die waarheid te praat” die fliek gered het van enige ander moontlike tekortkominge. Albei se gunsteling karakter was natuurlik Orm en hulle beveel die storie ten sterkste aan vir alle kinders in hul onderskeie ouderdomsgroepe.

Anders as in Die Sneekoningin waar Karen Wessels die stem van Gerda behartig het, het die plaaslike sangeres Leah die leisels as die hoofheldin Gerda se stem oorgeneem in Die Sneeukoningin 2. Leah het ook die temalied gesing, nes met die eerste rolprent. “Maak my dag” is geskryf deur Johan Vorster en Christoph Kotze, en dis ’n lekker, goed-voel liedjie wat beloof om nog baie gewild te raak dié somer.

Die Sneeukoningin 2 mag dalk ouer gehore verveel, maar vir die jongspan is dit pure pret in Afrikaans.

Inligting

}

Speeltyd

72 min

i

Teks & Regie

Kobus Geldenhuys | Riana Wilkens

Webtuiste

Skerms

25

s

Ouderdomsbeperking

PG V

Akteurs

Leah, Pierre Breytenbach, Antowan Nöthling, Heidi Mollentze,
André Stolz, Rina Nienaber, Richard van der Westhuizen, Lochner de Kock, Lelia Etsebeth, Gert van Niekerk, Francois Stemmet, Wikus du Toit, Anton Dekker, Lochner de Kock, Cobus Visser, Christine Voorendyk en Victor Voorendyk

Sterre

3.5/5

Bruto Inkomste

0

Word deel van die vriendekring