Die Ontwaking

‘n Lig In Die Donker Gang vir Rillers In Afrikaans

Resensie

Deur

Gerhard Ehlers

As daar twee genres in die Suid Afrikaanse film industrie is wat nog nooit rerig ondersoek of mee ge-eksperimenteer is nie, is dit beslis die gruwel en riller genres.Probeer mens terugkyk en ‘n blik kry op wat al in hierdie lang donker onvoorspelbare gang van bangmaak-stories gemaak is, is daar maar weining wat gehore se nekhare laat rys het.Dirk de Villiers se “My Broer se Bril” van 1972 sowel as “Ongewenste Vreemdelik” uit die pen van Jans Rautenbach kan eerder as donker dramas bestempel word.Meer onlangs is veteraan-speurverhaalskrywer Deon Meyer se gelyknamige verwerking van sy boek “Die Laaste Tango” nie baie goed deur gehore en kritisi ontvang nie, en 2010 se “Night Drive” is as bloeddorstig en met min om die lyf, deur baie gekritiseer.Die groot vraag is, hoekom word daar nie rillers en gruwels in Afrikaans gemaak nie, en waarom is die handjievol wat wel gemaak word, nie so suksesvol soos die hordes romatiese komedies of soetsappige musicals waarvan ons die afgelope dekade so ‘n oordosis kry?Het dit dalk iets met ons samelewing en diversiteit te make, wil ons gehore regtig hierdie genres in ons moedertaal sien en hoor?

Abel Lotz se trilogie deur skrywer Chris Karsten is die nuutste boekreeks wat die gedaanteverwisseling van bladsy na skerm ondergaan het.Chris wat al ‘n klompie jare in Kanada woon, het lesers die eerste keer aan Abel Lotz bekend gestel in die eerste van drie boeke getiteld Abel se Ontwaking.In dié boekreeks het ons Abel Lotz, die eienaar van ‘n eksklusiewe maskergallery leer ken as die hinkepink psigopaat met ‘n onwrikbare drang om jong vrouens te teiken, te ontvoer en hulle tatoëermerke uit te sny-dit als vir sy persoonlike “kuns versameling” Aan die filmkant van die oorgangsproses, is dit industrie bekende produksie ontwerper, Johnny Breedt wat die regie van “Die Ontwaking” behartig. Saam met sy span bring hulle nie net ‘n moeilike onderwerp na die grootskerm toe nie, maar neem hulle ook ‘n reuse kans, om hierdie meestal onbekende en ingewikkelde genre aan ‘n Afrikaanse gehoor te bring.

Gys de Villiers speel Abel Lotz.Gys staan nie verniet as een van ons industrie se “groottes” bekend nie.Hy kry nie net al die fisiese kenmerke wat lesers in die boekreeks van lees,goed onder die knie nie, maar as akteur slaag hy daarin om Abel se psige gestalte te gee-verseker dié rol en element in die film wat goed slaag.Die oorblywende filmelemente is ongelukkig effens nader aan ‘n misoes.

Die rolle van offisier Naser en die joernalis Collipepper wat deur Juanita de Villiers en Jaco Muller onderskeidelik vertolk word, kom nie oortuigend genoeg na vore nie.Veral offisier Nessar se karakter herrinner geensins aan die van die komplekse en taai Nessar in die trilogie nie.Ander karakters soos die van Fred Lange gespeel deur Gérald Rudolf, sowel as Sers. Silas Sauls deur die veelsydige Paul Eilers, slaag meer daarin om die kykers se aandag by die storie te hou.Op die ou-end kan die spelers net soveel bydrae tot ‘n gebrekkige teks met tonele wat onafgerond voorkom.Dit laat natuurlik die hele debat van hoe riskant ‘n trilogie wat in ‘n negentig minute teks verwerk word, werklik is.Een aspek van “Die Ontwaking” se verwerkte teks, wat aanvangkilk as verfrissend voorkom is die kru-taal.Nes in Karsten se boeke, is die kru-taal een met die karakters wie die harde dialoog natuurlik en oortuigend uitspoeg-ongelukkig in die film raak die gekruide dialoog teen die tweede bedryf geforseerd en onnatuurlik.

Die kinematografie herrinner aan die Skandinawiese onafhanklike rolprente, met sy kenmerkende ‘uitgewasde’ en bleek voorkoms, wat op ‘n visule sowel as subtiele vlak aan Abel se fantasiewêreld herrinner.Die openingsskoot van ‘n haas wat deur Abel skoongemaak en “uitgehol” word, saam met die onrusstelde klankbaan wat stilletjies deursyfer laat mens beslis reggop sit.

“Die Ontwaking” is nie die Afrikaanse riller waarna gehore al jare lank (-of dalk nie?) hunker nie, maar terselfde tyd is die film beslis ‘n stap in die regte rigting.Johnny Breedt en sy span kan hulself gerus ‘n klop op die skouer gee.Wie weet, nie lank van nou af nie, wanneer rillers en gruwels nes die ander genres, ‘n verdiende plek op die grootskerm het, sal gehore dalk terug kyk en enthou, ja dit was mos Gys de Villiers se Abel Lotz wat die krakende deur aan die einde van hierdie lang donker gang, met sy swart stewel op ‘n skrefie oopgestoot het…

Inligting

}

Speeltyd

87 min

i

Teks & Regie

Johnny Breedt

Skerms

25

s

Ouderdomsbeperking

16 L V

Akteurs

Gys De Villiers, Juanita De Villiers, Gerard Rudolph, Paul Eilers, Tertius Meintjies, Morne Visser, Jaco Muller

Sterre

3/5

Bruto Inkomste

0

Word deel van die vriendekring