Dertien Jaar se Deursettingsvermoë

Uga Carlini se dokumentêr Beyond the Light Barrier

Nuus

Deur

Anna-Marie Jansen van Vuuren

Ná dertien jaar het ‘n Afrikaanse rolprentmaker uiteindelik haar dokumentêr voltooi oor ‘n Suid-Afrikaanse vrou wat glo ‘n kind saam met ‘n ruimtewese verwek het. Uga Carlini is al vantevore bekroon vir haar werk as regisseur op die fliek Angeliena (2021) en die dokumentêr Alison (2016). Nou maak haar dokumentêr oor Elizabeth Klarer – Beyond the Light Barrier – uiteindelik sy buiging by die Encounters Dokumentêre Rolprentfees in Johannesburg en Kaapstad. Anna-Marie Jansen van Vuuren het vir Carlini gevra hoekom dit so lank geneem het om die fliek te maak.

“Die ruimtewesens het gebeur!” lag Uga toe ek vir haar vra hoekom hierdie dokumentêr die derde groot produksie is wat sy sou maak, alhoewel dit veronderstel was om die eerste een te wees nie. Beyond the Light Barrier was die eerste rolprent wat sy wou maak toe sy haar produksiemaatskappy, Towerkop Productions, in 2010 gestig het.

Eintlik het die idee haar al beetgekry toe sy nog net ʼn kind was, en die joernalis (deesdae uitgewer) Petrovna Metelerkamp se storie daaroor in die Huisgenoot gelees het. Uga was ʼn boekwurm en het die tydskrif altyd verslind. Daarna het haar ma die gelyknamige boek van Elizabeth Klarer vir haar gekoop, wat deur ʼn Duitse uitgewer uitgegee is.

Volgens Uga was dit die perfekte storie vir ʼn fliek: “Hier was hierdie vrou wat ʼn wetenskaplike was – sy het ʼn graad in meteorologie by Cambridge verower – wat getuig het dat sy tussen 1954 en 1963 deur ruimtewesens besoek is. En nie net dit nie. Sy het glo ʼn kind by een van hierdie ruimtewesens – Akon verwerk.”

Tog het omstandighede daartoe gelei dat sy eers die dokumentêr Alison en later die vollengte rolprent Angeliena sou maak. Alison wat in 2016 uitgereik is, het oor die verkragtingsoorwinnaar (“rape survivor”), Alison Botha, gegaan. Sy is in 1994 ontvoer, verkrag en meer as sestig keer met ʼn mes gesteek. Alison kan nou op Showmax gestroom word, terwyl Angeliena op Netflix beskikbaar is.

Hoekom het dit dan so lank geneem om Beyond the Light Barrier te voltooi? Uga meen dis veral omdat sy die projek as ʼn dokumentêr aangepak het. “Vir befondsers en gehore was dit ʼn bietjie dik vir ʼn daalder as ʼn nie-fiksie werk. Maar eintlik was dit ʼn mallemeule waartydens ek baie aspekte van die storie ontdek het. Dis soos ʼn skattejag – en die skattejag is nog nie verby nie. Ek glo daar gaan nóg inligting daaroor uitkom”.

Klarer is in 1910 in Mooi Rivier, Natal gebore en is in 1994 op die ouderdom van 83-jaar oorlede. Tog kon Uga ʼn gedeelte van die storie in Klarer se eie woorde vertel, aangesien ʼn diepte onderhoud met Klarer oor die gebeure destyds met haar verfilm is. Uga het hierdie onderhoud by Frank Myburgh van Digital Film in Johannesburg gekry. “Hy het destyds ʼn dokumentêr vir M-NET en ʼn Britse uitsaaier daaroor gemaak.” Verder het Uga ook onderhoude met haar kinders en vriende gevoer (nou nie Ayling, die kind wat sy by Akon verwek het nie. Ayling het glo op die planet Meton agtergebly.).

Uga het tydens die Kaapse been van die Encounters-rolprentfees ʼn werkswinkel aan voornemende dokumentêre rolprentmakers aangebied, waarin sy onder meer gepraat het oor die uitdagings wat daaraan verbonde was om Beyond the Light Barrier te maak. Wat was die grootste les wat sy geleer het, en wat sy aan hulle oorgedra het?

“Hierdie fliek was voorwaar ʼn reis, en ek sou dit nie sonder ʼn ongelooflike span kon afhandel nie”, begin sy. Dan sonder sy die kinematograaf, Georgia Court, uit. “Sy’t heel eerste ja gesê – toe ek nog net die idee gehad het. Ons het aan ʼn reeks vir Sandra Prinsloo, Sewe Sakke Sout, gewerk en toe het sy ingestem om deel van die span te word.” Dit sou uiteindelik dertien jaar neem om die projek te voltooi. Hieroor sê Uga: “Rolprentmaak is moeilik. Ek het nooit aan die begin gedink dat dit só lank sou neem om dit klaar te maak nie. Ons het sovéél geld uitgegee – geld wat ons nog moet terugmaak!”

Die lang tydperk waartydens die rolprent verfilm is, het ook bygedra tot die uitdagings daarvan om dit uiteindelik te redigeer. “Ons het wêreldwyd verfilm. En soms is daar nóú iemand beskikbaar vir ʼn onderhoud, maar jy kan nie jou hele span soontoe neem nie. Dan gaan net twee mense. Maar ek is uiteindelik baie trots met die “magic” wat ons gemaak het met hierdie projek!” So glo Uga na dese in ruimtewesens?

“Wel…”, giggel Uga. “Uhmm… ek is steeds besig om hierdie storie te prosesseer. Dit is so ʼn mengsel van leuens en waarheid en miskiens. Tog, dit sal nogal arrogant van ons wees om onsself in hierdie groot sterrestelsel te bevind, en nie te kan dink dat daar wel so ʼn moontlikheid is voordat ons nog verder kan verken nie.” Uga voeg wel by dat ás daar sulke wesens is, hoop sy nie hulle is soos Akon, van die planeet Meton, waarmee Elizabeth kontak gehad het nie. “Ek hou nie baie van hom nie”, stel Uga dit onomwonde. Om uit te vind hoekom nie, sal ons seker eers die fliek moet kyk.

Uga eindig met die woorde: “Of jy nou in “aliens” glo of nie. Hier is ʼn projek wat Suid-Afrika verteenwoordig voor en agter die kamera!”

Beyond the Light Barrier vertoon Vrydagaand 30 Junie 2023 by die Bioscope teater in Johannesburg en Sondagaand 1 Julie 2023 by die Ster Kinekor teater in Rosebank. Daarna maak die fliek sy buiging in Oktober 2023 op die Amazon Prime-stroomdiens.

WORD DEEL VAN DIE

Nie-Winsgewende Organisasie