Clementine Mosimane

is Poppie Nongena

Nuus

Deur

Anna-Marie Jansen van Vuuren

Clementine Mosimane se ma was ‘n joernalis. Eers by die koerant The World (wat in 1977 verban is) en later by Business Day en The Citizen. Sy het haar kinders aangemoedig om te lees en te lees, sodat hulle op hoogte kan wees van wat in die wêreld aangaan. Dis dié dat Clementine Elsa Joubert se boek reeds op laerskool gelees het. 

Was die Afrikaans nie ʼn probleem nie? Nee, nes die karakter waarop die boek geskoei is, vloei Afrikaans vlot oor Clementine se tong. Haar ouma was mos Afrikaans. Die einste ouma wat haar die tweede naam “Salome” gegee het. Sy was ʼn nooi Sally September.

Clementine het van die begin af geweet sy is gebore om die rol van Poppie Nongena te vertolk – vandat sy dit die eerste keer by die Markteater gesien het. Toe was dit Nomsa Nene se taak om Poppie se skoene vol te staan. En toe hoor Clementine van die fliek. “Ek was nie beskikbaar vir die oorspronklike oudisies nie, maar ek wou die rol só graag speel. Toe vra ek vir my agent of die vervaardigers nie bereid sou wees om my te laat inkom as hulle die kortlys van akteurs weer terugroep vir verdere oudisies nie,” vertel Mosimane. Die vervaardigers het ingestem, en toe sy die dag daar aankom, toe is net ek en Chris Gxalaba (wat die rol van haar man in fliek vertolk) daar. “Ek het vir hom gesê – hierdie rolle, is ons s’n”. Ten spyte van hierdie sekerheid wat sy in haar hart gekoester het, was die ekstase steeds groot toe sy die oproep met die nuus van regisseur Christiaan Olwagen ontvang. “Ek was besig om in ‘n winkelsentrum rond te stap. En ek was so bly, ek het sommer hardop gegil en op en af gespring.”

“Poppie” was haar eerste gróót silwerskermrol, al het sy al vantevore haar buiging gemaak in kleiner rolle, soos met Ntshaveni wa Luruli se Chikin Biznis (1999) en selfs die musiekblyspel Liefling (2010). Tog is sy al vir jare lank ʼn bekende gesig op die kleinkassie, waar sy vir amper tien jaar die rol van Thandi Mazwai in die SABC 1 drama reeks Soul City vertolk het. Sy word ook steeds herken as die matriarg Ma Rose Tladi van die MNET sepie The Wild. Maar waar het dit alles begin? By die SAUK en Louise Smit, wat Clementine as haar televisiema beskryf.

“Sy sê toe een dag vir my – kom speel vir my ʼn hoender in een van my kinderstories, asseblief. Ek was vir drie jaar lank daardie hoender en moes die stem en die pop beheer. Die program is in isiZulu, isiXhosa, Tshwana, Pedi en Sotho uitgesaai.”

Nog ʼn Afrikaanse legende by wie Clementine baie geleer het, is die regisseur Katinka Heyns. Sy het in Heyns en Chris Barnard se SAUK-televisiereeks Onder draai die duiwel rond in die laat negentigerjare gespeel. “Ons het soveel pret gehad terwyl ons dit verfilm het. Dit was mos daar anderkant, Hartbeespoort. Maar Katinka was ʼn goeie regisseur – sy’t geweet wat sy wil hê.”

Clementine gee dieselfde krediet aan Olwagen, wat haar regisseur was met Poppie Nongena. “Hy was betrokke by elke aspek van die fliek. Hy het saam met die kunsontwerper besluit oor die kleur van die kostuums en hoe elke kamer moet lyk. En as ons gerepeteer het, het hy elke stukkie dialoog saam met ons opgesê – sommer so uit sy kop uit.” Dit was ook hy wat nou en dan vir mede-aktrise Nomsa Nene moes maan dat hierdie die rolprent is, en nie die toneelstuk nie.

Nomsa het vir Clementine dikwels geonderskraag, want dit is ʼn uitmergelende rol. Ons as kykers moet Poppie in ʼn kwessie van een uur en 45 minute se skermtyd léérkén. Dit is altyd die uitdaging wanneer ʼn mens ʼn boek na ʼn rolprent aanpas. Daar is net nie genoeg tyd om die hele storie te vertel nie. Maar Clementine speel die rol met gravitas en sleur ons mee met Poppie se verhaal. As sy huil, as sy sing, en as sy haar hand in ʼn gebalde vuis oplig. Want ʼn mens kan net soveel keer op ʼn vrou trap. En Suid-Afrikaanse vroue is van goeie stoffasie gemaak. 

Word deel van die vriendekring