Ander Mens

Taai. Toffie. Tarantino

Resensie

Deur

Anna-Marie Jansen van Vuuren

ʼn Ander Mens handel oor Daniel Niemand (Bennie Fourie), die tipiese bleeksiel rekenmeester wat al ʼn stereotipe geword het. Alles loop deesdae verkeerd in sy lewe – as hy nie sukkel om skuld in te vorder nie, blameer sy familie hom dat sy uitrusting nie by die “kleurpallet” van sy nefie se troue pas nie. En sy vrou… o sy vrou… dis ʼn storie vir ʼn ander keer! Hy vergestalt die uitdrukking “verkeerde tyd, verkeerde plek” en dit lei daartoe dat hy in die polisie se getuie-beskermingsprogram opgeneem moet word. Dit is hiér waar Erica Kruger (Marlee van der Merwe) op die toneel verskyn. Kruger is nie ʼn karakter wat jy nie sonder handskoene moet aanpak nie, en van die eerste oomblikke van die fliek af steel Van der Merwe reeds die kollig.

Dit is met ʼn swaar hart waarmee ek hierdie resensie skryf, omdat ek so ʼn groot Quentin Krog bewonderaar is. Met Ballade vir ʼn Enkeling het hy vir my haarfyn regie gewys wat ʼn merk op die Afrikaanse kyker se psige gemaak het en van nostalgie ʼn ware kunsvorm gemaak het. Toe weer het hy met Vir die Voëls vir my ʼn storie vertel wat my dae, weke, tot maande daarna steeds geraak het. Iets wat so maklik in sentiment kon verval, het hy met daardie twee rolprente vervolmaak.

Ja, ek is ʼn Quentin Krog-ondersteuner, maar ek is ook ʼn Quentin Tarantino-aanhanger, en dis miskien juis waar die probleem inkom. Ek het net te veel raakpunte met Tarantino se rolprente gesien terwyl ek na Ander Mens gekyk het. ʼn Mens kan redeneer daar is niks nuut onder die son nie (soos selfs hierdie anglisisme bewys) en dat intertekstualiteit ʼn groot rol speel in genre rolprente. Ek self het al menigte Afrikaanse romantiese komedies gekyk en die een na die ander clichés opgemerk, wat Hollywood al tot sterwensmaal aan ons verkoop het. Daar is ʼn rede hoekom formule-gedrewe flieks werk, en ek glo dit is wat die skryfspan ook met hierdie rolprent wou bereik. Afrikaanse flieks is ook nie die enigste sondaars nie. Gaan kyk ʼn bietjie as jy dalk jouself op ʼn buitelandse vlug bevind, hoeveel internasionale rolprente Hollywood resepte volg. Van Turkse dramas tot Italiaanse komedies – selfs die fliek se plakkaat verwys na die oorspronklike rolprent waaruit dit sy inspirasie vind.

Is die bogenoemde genoeg rede om nié Ander Mens te ondersteun nie? Nee. Nes baie rolprente ʼn ode is aan diegene wat die regisseur inspireer het, is hierdie fliek vir my ʼn ware Suid-Afrikaanse huldeblyk aan Mia Wallace van Pulp Fiction en die Bruid van Kill Bill. Marlee van der Merwe hoef egter nie ʼn tree terug te staan vir Uma Thurman nie, en nes Charlize Theron wys sy dat Afrikaanse heldinne kan gatskop. Die choreografie, spesiale effekte en kamerawerk van die vegtonele is prysenswaardig en die produksiespan daarby betrokke is beslis ʼn klop op die skouer werd. Verder het die klankontwerp op ʼn subtiele wyse die storie en handeling op skerm ondersteun.

Gaan almal van hierdie fliek hou? Die antwoord is weereens ongelukkig, nee. Al sou ek hoe graag wou gehad het dat elke gehoorlid wat gereeld Afrikaanse flieks ondersteun ʼn teaterkaartjie hiervoor moet koop. Die bogenoemde leidraad oor Tarantino behoort boekdele te spreek. ʼn Kragwoord of tien, tonele met geweld en ʼn kaalbas skoot of twee is genoeg om baie kykers af te sit. Tog kan ʼn mens redeneer dat dit huigelary is, want baie van ons kyk en aanvaar dieselfde aspekte as dit in ʼn oorsese rolprent voorkom. ʼn Mens is dalk maar net meer krities as dit in jou eie taal voorkom.

Aan my kant het dit wel gekrap dat ʼn paar plot-elemente nooit opgelos word nie, en meer nog dat eksposisie dikwels onder jou neus gevryf word. Tog het die aksietonele en skerp kwinkslae van die karakters jou telkens beloon. Om Van der Merwe aan te haal, ek hoop hierdie fliek ontsluit meer sterk vroue karakters wat patriargie op sy kop kan keer.

Inligting

}

Speeltyd

105 min

i

Teks & Regie

Quentin Krog, Sean Daniels en Frannie van der Walt | Quentin Krog

Skerms

25

s

Ouderdomsbeperking

16 L N V

Akteurs

Marlee van der Merwe, Bennie Fourie, Frank Opperman, Andre Weideman, Roeline Daneel en James Borthwick

Sterre

3/5

Bruto Inkomste

0

Word deel van die vriendekring