Abraham

Resensie

Deur

Anna-Marie Jansen van Vuuren

Daar is bittermin filmmakers wat die kuns van film gestand doen, wat nog te sê Suid-Afrikaanse filmmakers. Nietemin is een van hierdie ‘minderheids’-filmmakers niemand anders as Jans Rautenbach nie. Jans kan as een van die mees kontroversiële filmmakers in Suid-Afrika beskou word, en met films soos Jannie Totsiens, waar die spel nuwe intense hoogtes bereik, Pappalap, met sy egte eenvoud en Die Kandidaat, waar tegniese aspekte soos die beweging van die kamera en kamera perspektief die eerste vir ‘n Afrikaanse rolprent was, spreek Jans se werk beslis vanself. Verbode temas was ook deel van Jans se rolprente gedurende die Apartheidsjare. Temas soos psigose, armmoede onder blankes, en kritiek op die destydse Apartheidsregering, het die sensuurraad meer as net warm onder die kraag gelaat.

’n Mens kan nie help om te wonder waarom Jans 30 jaar laas gehore betower het nie – sy laaste film was No One Cries Forever. Nes Jans stadig uit die volksoog begin verdof het, is hy vanjaar, op die ouderdom van 81, terug met ’n splinternuwe film.

Abraham vertel die storie van ’n jong bruinman gedurende die somer van 1983, wie se droom om eendag ’n beroemde beeldhouer te word, geheel en al te groot is vir waar hy homself in sy lewe bevind. Die storie speel af op Jans se plaas ‘Oulap’ op Vlakteplaas in die Klein Karoo. Soos met byna al Jans se vorige rolprente, speel die landskap ’n geweldige groot rol in die storie. In Abraham is die Klein Karoo geen uitsondering nie. Hier gebruik Jans wye- en langskote om die afgesonderde skrilheid en naakbaarheid van ’n landskap ten toon te stel, wat as een van die hoofkarakters met die gehoor bemoeienis maak.

Die rol van die 50-jarige Jans Rautenbach word deur Hannes Muller gespeel en sy vrou Almeri deur Franci Swanepoel. Abraham Soetland (DJ Mouton) se lewe en bestaan kan as “versukkeld” beskryf word – ’n ongenaakbare dorre Karoo-bestaan. Sy vrou Katie Soetland, meesterlik vertolk deur Chantelle Phillipus, is ’n alkholis in die geheim, en hoewel sy haar man innig lief het, en aanvanklik ondersteun met sy jare-lange stokperdjie, is sy ook een van sy grootste struikelblokke in die pad na sy droom. Hulle het ook ‘n vierjarige dogtertjie wat hulle sukkel-sukkel probeer grootmaak met die paar rand wat Abraham kry vir sy handewerk.

Die film open met ’n skoot wat net uit ‘n visionêre filmmaker soos Jans se kop kon kom. ’n Lang skoot wat fokus op Abraham wat uitasem op die treinspoor na die kamera aan gehardloop kom. Wat volg is ’n amperse ongeluk wanneer hy reg voor Jans se bakkie inhardloop. Hy vertel uit asem vir “oubie”, soos hy respekvol na Jans verwys, dat hy vir hom iets spesiaals gemaak het, en dat dit net in “oubie” se tuin kan pas. So ontwikkel daar uiteindelik ten spyte van Jans se frustrasie en weens Abraham se uithouvermoë, ’n vriendskap. Twee mans uit verkillende wêrelde, met een eienskap in gemeen: albei is dromers.

Tegnies is Abraham in vergelyking met ander onlangse Afrikaanse rolprente, bo-gemiddeld. Jans gebruik, nes in sy vorige werke, die kamera as primêre verteller. Die kyker beleef elke nuanse van die storie deur die lens, en die karakter se emosies word visueel met die kamera se beweging en skootgrotes uitgelig. Jans wat ook sy stem as verteller inspan, gee ’n byna dokumentêre gevoel aan die stuk. Dit is ook vervrissend om deur ‘n filmmaker van ouds amper geforseer te word om te fokus waarop hy wil hê ons moet fokus. Skote is met opset langer om die karakters se broosheid te ontbloot.

Die storie is eenvoudig en onopgesmuk, sonder pretensie of vooroordeel. Die spel is goed en dit is veral die nuweling DJ Mouton in die titel-en-hoofrol, wat die hartsnare behoorlik roer, en soms oorskadu sy spel die res van die rolverdeling. Abraham is ‘n storie oor drome, aspirasies en die klippe op ons lewenspad wat ons soms kan hinder in ons strewe na sukses en ’n gevoel van “ek behoort”. Vir hierdie rede sal Abraham tot die meeste gehore se harte spreek.

Die enigste kritiek op Abraham is die tempo waarteen die storie vertel word. Dit is op plekke soms langdradig en raak met tye effens vervelig. Vir ’n generasie wat teen ’n blitsvinnige spoed als rondom ons inneem en verslind, mag Abraham dalk ‘n vermoeiende ondervinding wees. Natuurlik verskil smaak van gehoor tot gehoor, en mag ’n jong uitgesproke, blitsvinnige filmmaker en sy of haar gehoor ‘n ding of twee by hierdie ou Don Quixote van Boksburg leer – dat rolprentkuns tydloos is en dat dit nie saak maak hóé jy jou storie vertel nie, maar dat jy dit wel vertel… op jou unieke manier.

Abraham mag dalk nie in almal se smaak val nie en daar kan selfs bespiegel word of dit werklik Jans se “comeback” is. Wat wel klinkklaar is, is dat Jans Rautenbach na 30 jaar terug is, en hopelik sien ons nog heelwat rolprentkuns van hierdie meester.

Inligting

}

Speeltyd

95 min

i

Teks & Regie

Jans Rautenbach

Skerms

25

s

Ouderdomsbeperking

10–12PG

Akteurs

DJ Mouton, Hannes Muller, Franci Swanepoel, Chantell, Phillipus, Jull Levenberg

Sterre

3.5/5

Bruto Inkomste

0

Word deel van die vriendekring