Vlugtig

Daar’s ‘n Rooikappie én ‘n wolf in almal van ons

Resensie

Deur

Roelof Bezuidenhout

In Vlugtig maak ons kennis met Simon Berg (Arno Greeff), ʼn aspirant akteur wat sukkel om ʼn deurbraak in die vermaaklikheidswêreld te maak. Hy het al heelparty kleiner rolle gehad, onder meer as ʼn wortel asook ʼn vark in ʼn kinderprogram. Dit kom dan as geen verrassing dat hy die sogenaamde kans van ʼn leeftyd met albei hande aangryp wanneer hy ʼn aanbod van een van sy grootste rolmodelle, die befaamde teaterregisseur Andreas Vog (Ernst van Wyk, wat ook die draaiboekskrywer was) kry nie. Vog werk aan ʼn nuwe Rooikappie-verwerking vir die verhoog, en vra Berg om as beide die houtkapper en die wolf te kom repeteer.

Maar Berg moet alles net so los en onmiddellik saam met Vog die woud (verfilm in Magoebaskloof) inslaan, waar dié vreemde regisseur gou begin om sy onortodokse metodes op sy toekomstige houtkapper en wolf te gebruik. Berg se enigste toevlug is Chantel (Jane de Wet) wat die rol van Rooikappie sal speel, asook ʼn verlate kothuis ‘n ent verder van waar die span tydens hul voorbereidings tuisgaan. Soos Vog se sadistiese en intimidasie tegnieke al hoe erger raak (dis kort voor lank duidelik dat hierdie veel meer as “method acting” is), moet Berg ook al hoe dieper in sy binneste grawe en met sy eie spoke wroeg om uiteindelik die oorhand te kry.

Arno Greeff (Blood & Water en Getroud met rugby: die Sepie) is baie oortuigend in sy rol as Berg en het hom uitstekend van sy taak gekwyt. ʼn Mens se simpatie lê vanaf die eerste skoot by hom terwyl hy jou op ʼn riller van ‘n rit neem – nie net deur die donker bos nie, maar ook deur die donker oerwoud van sy eie (en jóú) menswees.

Jane de Wet (Griekwastad en The Girl from St Agnes) lewer net so ʼn goeie vertoning as Chantel Opperman, en dit is opvallend hoe natuurlik sy en Greeff teenoor mekaar op skerm voorkom.

Op ʼn tegniese vlak werk al die departemente soos ʼn goed-geoliede masjien saam, vanaf die kamerawerk (Werner Botha) tot by kostuums (Anine Scheepers), en redigering (Dries Scholtz) tot by regie (Marinus Gubitz). Die film is vervaardig deur Danie Bester en die produksieontwerper is Waldemar Coetsee. Ek moet tog net die oorspronklike musiek deur Kyle Shepherd uitsonder. Dis so maklik om bekende musiek vir ʼn film te gebruik, so wanneer jy iets hoor wat nie net spesiaal gemaak is vir ‘n produksie nie, maar die tonele ook soos ʼn handskoen pas, dan mág mens liries raak. Wel gedaan!

Vlugtig neem die kyker op ʼn self-ontdekkingsreis waar jy herinner word dat almal eintlik ʼn Houtkapper, ʼn Ouma, ʼn Rooikappie asook ʼn Wolf in hulle het – dit hang net af van die omstandighede. Die een wat jy voer – dís die een wat sterker na vore sal kom.

Vlugtig wys nou op DSTV BoxOffice

 

Inligting

}

Speeltyd

96 min

i

Teks & Regie

Ernst van Wyk | Marinus Gubitz

Skerms

s

Ouderdomsbeperking

16

Akteurs

Arno Greeff, Jane de Wet, Ernst van Wyk, Tobie Cronjé en Schalk Bezuidenhout

Sterre

4/5

Bruto Inkomste

0

Word deel van die vriendekring