Stiekyt

’n Kleurryke meesterstuk

Resensie

Deur

Dee Theart

Stiekyt se filmplakkaat het jou moontlik laat dink dis ’n oordrewe rolprent oor fopdossers, maar moet liefs nie jou eerste indrukke vertrou nie…

“Mense sê altyd liefde is die sterkte emosie, maar ek dink ambisie is. Dit sal jou mal maak as jy dit toelaat.” Hierdie kragtige woorde van die karakter Stella (Illse Roos) skop nie net die lokprent af nie, maar eggo ook deurgaans deur die hele rolprent.

Stiekyt se storielyn handel oor ’n heteroseksuele akteur, James (vertolk deur Paul du Toit), wat die hoë hakskoene van ’n fopdosser moet aantrek om kos op sy familie se tafel te sit. Maar kykers sien omtrent niks van die fopdosvertonings nie, want die vonke spat behoorlik ágter die skerms as sy vrou, Susan (Cintaine Schutte), na maande uitvind hoe haar man werklik sy geld maak. Boonop, word die kyker meegesleur in ’n riller moordverhaal en die gebeure (en emosies) wat tot die moord gelei het. Lae, lae, en nog meer lae!

Etienne Fourie, wat ook die teks en regie van rolprente soos Die Windpomp (2014), Dis Koue Kos, Skat (2016) en Liewe Kersfeesvader (2017) behartig het, spog met ’n heel ander aanslag in sy nuutste film. Skokkend, uitdagend, grensverskuiwend, verrassend, “op-die-punt-van-jou-stoel-sit”-vermaak. Dis maar net van die byvoeglike naamwoorde wat gebruik kan word om Stiekyt te beskryf, maar gehore sal self die fliek moet kyk om hierdie beskrywings te verstaan.

Stiekyt spog met drie KykNET Silwerskermfees-toekennings: Beste Manlike Akteur (Paul du Toit), Beste Manlike Byspeler (Albert Pretorius as Pandora BoXXX), en Beste Kinematografie (Eduan Kitching). Die rolprent is ook al by verskeie internasionele rolprentfeeste vertoon, insluitend by die Tallinn Black Nights FilmFees (PÖFF) in Estland. Dis nie verbasend nie, want hierdie is allermins ’n tipiese Afrikaanse rolprent.

Die narratief spring onchronologies in verskillende ruimtes en tydsones rond, en alhoewel die kyker so nou en dan deurmekaar sal voel, loop alles tog mooi tot ’n punt. Dit is juis hierdie element wat die kyker sal aanmoedig om die rolprent ten volle waar te neem, om geen van die aksie te mis te loop nie.

Daar is te veel uitsonderlike rolspelers om uit te sonder, maar die fliek sou natuurlik nie sonder die kreatiewe meesterbrein van Etienne Fourie bestaan het nie. Fourie het hierdie storie en draaiboek opgedis en as regisseur op ’n uitmuntende wyse voorgesit. Tesame met Fourie, lewer kinematograaf, Eduan Kitching, en produksie-ontwerper, Bathoni Robinson, ʼn visuele kragtoer, veral as ’n mens in ag neem dat meerderheid van die tonele in een ligging afspeel. Die wys waarop hulle die verskillende kamers en veral die gange van die teater belig, versier, en rondspeel met die kleurpalet om sekere emosies te nuanseer, is uiters innoverend.  

Van ons land se beste akteurs haal uit en wys (letterlik) in Skiekyt! Kykers sal Paul du Toit (bekend vir sy rol as Malan Koster in die sepie Binnelanders) in ’n heel ander lig sien. Die kleurryke manier waaarop hy James speel is gelykstaande aan Joaquin Phoenix se Joker, veral in die manier waarop hy laag na laag afpeul en soveel verskillende fassette van sy karakter deurgaans wys. Sy oë vertel boekdele en hou kykers vasgenael en aan die raai. Vir seker ’n uitblinkrol wat hopelik nog baie deure vir hom sal oopmaak – plaaslik en oorsee.

Alhoewel die hele ensemble hul uitstekend van hul taak gekwyt het, kan ’n mens nie anders as om Illse Roos as Stella (die eienaar en bestuurder die fopdosklub) uit te sonder nie. Sy is ’n ervare hand in die toneelwêreld, maar wys ’n nuwe sy van haar akteursvernuf in hierdie rol. Schutte as Susan, James se vrou, trek aan die hartsnare, en kykers voel die pyn saam met haar. Haar lang tonele teenoor du Toit is absoluut magies! Jacques Bessenger is een van ons land se bestes, en trek kykers in met ’n fantastiese subtiele vertolking as Jay-C le Roux. Kykers ken Albert Pretorius as Mnr. Veelsydigheid, en weereens sal hy kykers verras in sy eerlike vertolking van Pandora BoXXX. Die nuweling, Carla Smith (wat die karakter Lola vertolk), se komiese tydsberekening is uitstekend, en alhoewel haar speeltyd beperk is, is elke verskyning wat sy maak ‘n vinnige briesie in die stormloop van riller gebeure.

Alhoewel die rolprent nie daarop uit is om kykers te skok nie (of dalk is dit wel?), gaan dit vir seker ’n paar wenkbroue laat lig en opskuddings in sekere kringe veroorsaak. Tog is dit juis hierdie kinkels wat die storie aanhou dryf en die kyker in vervoering hou. Wees wel gewaarsku dat dit ’n donker film is, met bittermin ligte oomblikke, so maak seker jy is in die regte luim voordat jy die “play”-knoppie druk. En met die openingskrediete sal bloed, sweet, “glitter”, en trane volg. Verlustig jouself gerus aan Stiekyt – dis ’n móét-sien!

Inligting

}

Speeltyd

100 min

i

Teks & Regie

Etienne Fourie

Webtuiste

Skerms

s

Ouderdomsbeperking

16

Akteurs

Paul du Toit, Cintaine Schutte, Jacques Bessenger, Albert Pretorius, Illse Roos, Wessel Pretorius en Carla Smith

Sterre

4.5/5

Bruto Inkomste

0

Word deel van die vriendekring