Skaapboer

Skaapboer is alles of niks: Vars of vrot?

Resensie

Deur

Roelof Bezuidenhout

Wanneer Harold Bruyn (Keeno Lee Hector) in plaas van ’n verwagte verhoging as bankklerk, skielik afgedank word, moet hy, nes die gesegde sê, soos ’n boer ’n plan maak om die pot aan die kook te hou. Dié plan behels om in ’n Johannesburgse voorstad met skape te begin boer, aangesien sy oupa ook destyds geboer het, en dit daarom kwansuis in sy are is. Of is dit?

Skaapboer is ’n komedie uit die pen van Valenté Bosch (ook die regisseur en vervaardiger) en dit poog om ‘n storie van hoop, goeie en regte besluite, en geregtigheid te wees.

Die storie word ondersteun deur ’n gesoute span akteurs, onder meer die legendariese Brümilda van Rensburg as Mrs English en Natalia Da Rocha as Ma Mavis – wat albei hul unieke rolle hul eie maak en sorg vir (van die enigste werklike) snaakse oomblikke in die fliek. Ook Zoë Brown as Bernice Bruyn wys haar staal en speel die rol van ‘n tuisteskepper wat daarvan droom om eendag ’n bekende aktrise te word, baie goed.

In die algemeen was die rolverdeling in die kol, en heelwat byspelers kwyt hulself goed van hul taak, maar die karakters van Speurders Colby 1 en 2, asook dié van Anwar, het my glad nie beïndruk nie, en ek voel die fliek sou beter af wees sonder hulle.

Kamerawerk, regie, en klank, asook oorspronklike musiek deur Ebrahim Mallum, het nie een gepla nie, hoewel die tempo plek-plek ’n bietjie traag gevoel het.

Aan die einde van Skaapboer is daar ’n kinkel in die kabel wanneer Harold voor ’n interessante keuse te staan kom – kykers moet maar self kyk wat daardie keuse is en wat hy kies.  

Hoewel die storie goeie motiewe en ’n positiewe boodskap het, het dit my oor die algemeen teleurgestel en was dit redelik een-dimensioneel. Tog is ek seker dat dit ’n mark onder ons ryke reënboognasie sal kry.

Inligting

}

Speeltyd

100 min

i

Teks & Regie

Valenté Bosch

Webtuiste

Skerms

s

Ouderdomsbeperking

PG

Akteurs

Keeno Lee Hector, Zoë Brown, Natalia Da Rocha en Brümilda van Rensburg

Sterre

2/5

Bruto Inkomste

0

WORD DEEL VAN DIE

Nie-Winsgewende Organisasie