Silwerskermfees

Maak weer ná Covid-19-pandemie sy buiging in Kampsbaai

Nuus

Deur

Anna-Marie Jansen van Vuuren

Ná die omwenteling van die laaste drie jaar weens die Covid-19 inperkings, keer die Silwerskermfees uiteindelik weer vanjaar terug na sy tuiste in die Boere-riviera, Kampsbaai. Dié hoogtepunt op die Suid-Afrikaanse rolprent-kalender vind vanaf 23 tot 26 Augustus plaas. Anna-Marie Jansen van Vuuren het meer besonderhede.

ʼn Aanlyn-rolprentfees is nou een maal nie die ware Jakob nie. Jy kan nie die springmielies ruik, die gehoor hoor lag, of iemand langsaan jou ʼn traan sien pik nie. Indien jy iets op die hart het wat jy net met die regisseur, vervaardiger of klank-ingenieur móét deel, kan jy hom/haar na afloop van die vertoning met die aanbod van ʼn glasie wyn vir ʼn geselsie omkoop. Om in die Zoom “chat”-funksie ʼn opmerking te maak of ʼn e-pos na die rolprentmakers te stuur, voel in vandag se era van oorvol “inbox’e” net soos te veel werk. Daarom is Bioskoop dankbaar dat die Silwerskermfees hierdie jaar weer (met volle kapasiteit) na Kampsbaai terugkeer. Ons sal daar wees om jou op hoogte te hou van al die professionele drama wat voor en agter die skerms gebeur.

Die meerderheid van die Silwerskermfees se vertonings vind hierdie jaar weer by sy tuiste, die Bay Hotel en die Theatre on the Bay plaas. Daar is egter ook ʼn hele aantal vertonings wat in samewerking met Sunshine Cinema GRATIS aan die wyer publiek aangebied word. Hierdie vertonings sal in en om Kaapstad plaasvind.

In die woorde van die Silwerskerm-nuusbrief: “Dis wanneer die room van die land se kreatiefste film, TV- en vermaakliheidsmense na die Bay Hotel in Kampsbaai opruk om die premières van ’n hele rits nuwe speel- en kortfilms te beleef en daarna druk te bespreek. Daar is ook talle leersame meesterklasse, werkswinkels en netwerkgeleenthede.”

Die Silwerskermfees het inderdaad ʼn ryk geskiedenis dat hulle talent voor en agter die skerms ontdek het met hulle Kortfilm-mentorskap projek. Daarom sien ons veral hierdie jaar uit na die Silwerskermfees se dokumentêre reeks, wat vanjaar as deel van dié projek ontwikkel is. Dokumentêre rolprente word dikwels in Suid-Afrika oorsien en afgeskeep (met uitsondering van die ondersteuning wat dit danksy die Encounters Dokumentêre Filmfees platform kry). Daarom is ons veral opgewonde om te sien wat hierdie nie-fiksie program gaan oplewer.

Oudergewoonte sien Bioskoop ook uit na die Silwerskermtoekennings wat aan die einde van die rolprentfees plaasvind. Tog het dit hierdie jaar twee kinkels. Die eerste is dat dit in samewerking met die Stad Kaapstad by die Kaapstad Konferensiesentrum plaasvind sodat meer lede van die publiek dit kan bywoon. Tweedens sluit dit ook afdelings in vir inhoud wat spesifiek vir televisie en stroomdienste vervaardig word. Met die afwesigheid van die ATKV Mediaveertjies die afgelope paar jaar, is dit tans net die NFVF se Suid-Afrikaanse Film-en-Televisietoekennings (oftewel die SAFTAs) wat werklik ʼn platform bied vir uitblinkers in hierdie kategorieë om vereer te word. Daarom gee ons ʼn pluimpie aan Silwerskerm vir hierdie gedagte. Om in televisie te werk is nie vir sissies nie, en hierdie spanlede verdien ook hulle plekkie op die rooi tapyt.

Nog nuus volg binnekort. Die spanlede wat hierdie jaar se Silwerskermfees gaan bywoon is: Rick Bronkhorst, Dee Theart, Anna-Marie Jansen van Vuuren en Justin Yoko. Tik ons gerus op die skouer as jy ʼn geselsie wil aanknoop. Die wyn is ʼn bysaak. 😉

Lede van die publiek kan ook aanlyn kaartjies vir die Silwerskermfees koop. Volg hierdie skakel om te loer na die verskillende opsies wat beskikbaar is: 
silwerskermfees.co.za

 

Fotos: Retha Furgeson

WORD DEEL VAN DIE

Nie-Winsgewende Organisasie