’n Verhaal van monsters, wonderwerke en hoop | Bioskoop

’n Verhaal van monsters, wonderwerke en hoop

#butterflyrevolution

Martie Bester

Film

Film

Info

Regie: Uga Carlini

Met: Alison Botha as haarself. Christia Visser, Zak Hendrikz, De Klerk Oelofse, Francois Maree

www.alisonthemovie.com

Martie Bester

Martie Bester

Artikel Skrywer

Lees Meer

c

Op 18 Desember 1994 is Alison Botha verkrag, 37 keer met ’n mes in haar maag gesteek en is haar keel 17 keer gesny.

Op 12 Augustus 2016 kan rolprentgangers uiteindelik hierdie heldin in lewende lywe “ontmoet” in skrywer, regisseur en vervaardiger Uga Carlini van Towerkop Creations se vollengte dokumentêre rolprent, Alison.

Alison Botha se boek I Have Life, oor haar ervarings daardie aand en daarna, het in 1998 verskyn. Nou, agtien jaar nadat sy vir die eerste keer haar storie vertel het, kan gehore Alison se storie op die groot skerm sien in Uga Carlini se vollengte hybrid dokumentêre film: Alison. (’n Hybrid dokumentêr is ’n vermenging van tradisionele nie-fiksie filmmaaktegnieke en tradisionele filmmaaktegnieke.)

That night she needed a hero so that’s what she became

Alison sê, “Ek het nie daardie aand aanvanklik besef dat ek my eie held sou word nie. Maar ek het agtergekom dat ek my eie held moes wees toe ek besluit het ek nie wou doodgaan nie, dat ek wou aanhou leef om iets beter van my lewe te maak.”

Sy gaan voort: “Die film het my gehelp om te besef dat almal hul eie helde kan wees deur braaf te wees en hul uitdagings in die gesig te staar en te hanteer. Ons is almal helde wanneer ons kies dat die lewe se probleme ons nie gaan onderkry nie. Ons kan kies hoe om dit te benader en indien ons braaf genoeg is om dit te doen, is dit ’n heldedaad.”

Tot vandag toe skryf Alison die krag wat sy daardie aand ontvang het toe aan die gevoel van eiewaarde wat haar ma van kindsbeen af in haar gekweek het. Dat sy meer verdien het as om so te sterf. “Ten spyte van my beserings, het ek besluit ek is die moeite werd om vir te baklei. Ek wou nie so doodgaan nie. Nie toe nie en ook nie nou nie. Ek wou nog ’n kans hê.”

Voor die kamera

As internasionale motiveringspreker berei Alison voor vir haar praatjies en oor dit wat sy gaan deel. Maar dit was ’n ander storie voor die kameras. “Om op kamera te deel waardeur ek gegaan het, was baie uitdagend. Ek het toe besef dat dit een van die braafste dinge is wat ek besluit het om te doen.”

Alison vertel in die rolprent dat na haar aanval en ten spyte van die erns van haar beserings, sy nie pyn gevoel het nie. Maar sy onthou dat sy ’n buite-liggaamlike ervaring gehad het en ’n definitiewe keuse gegee is. Sy kon kies of sy wou gaan, of om haar aardse bestaan verder te voer.

“Ek is vas oortuig dat ons slegs deur swaarkry kan leer en groei. Wanneer dinge goed gaan, hoef ons nie ons sterkpunte of talente te gebruik nie. Ons het nie altyd beheer oor wat met ons gebeur nie, maar ons kan beheer hoe ons daarop reageer. Ek het geleer dat om jouself na waarde te skat een van die sleutelelemente is wat kan help om lewensuitdagings in die gesig te staar.

“Ek het nooit werklik in myself geglo voor die aanval nie. Maar dit het my geleer dat wonderwerke gebeur, selfs al glo net ’n klein deeltjie van ons daarin. Ons is tot soveel meer in staat as wat ons dink.”

Met Alison wil sy die boodskap oordra van die krag van die ongelooflike mag van die menslike gees. “Ek sal so bly wees as mense na my ondervinding kan kyk en nadat hul dit gesien het okei kan wees met wat in hul lewens gebeur het. Ek wil hê mense moet besef dat hulle braaf in hulle eie reg is. Ons hoef nie buitengewoon te wees nie. Om elke dag ons bes te doen, is genoeg.

’n Beter lewe

“Die belangrikste boodskap is dat ek na dié ondervinding ’n doel in my lewe gehad het en dit uitleef: om ’n verskil in ander mense se lewens te maak. My lyding kwyn wanneer ek weet dat dit wat ek doen ander mense se lewens verryk. Om ’n verskil te maak, het my gehelp om te genees.”

Kyk hier na die lokprent:

Alison wys by die Durban Internasionale Filmfees wat vanaf 16 tot 26 Junie plaasvind en is die openingsfilm van die Mzanzi Vrouefees op 5 Augustus.

Die film word op 12 Augustus 2016 by Nu Metro Cinemas landswyd in Suid-Afrika uitgereik.

Christia Visser vertolk die rol van die jong Alison, Zak Hendrikz is Frans du Toit en Theuns Kruger word deur De Klerk Oelofse vertolk.

Vir meer inligting, besoek https://www.facebook.com/alisonmovie, @AlisonTheMovie op Twitter en Instagram en www.alisonthemovie.com asook https://www.youtube.com/watch?v=WIvFTrJGWCY

Alison is vervaardig in samewerking met Towerkop Creations, kykNET Films, die DTI, die NFVF en Waterfront Film Ateljees.
*Alison se aanvallers, wat na die aanval ontbyt geëet het met die bebloede mes waarmee hulle haar oopgekerf het, was die 26-jarige Frans du Toit en Theuns Kruger (19). Hulle is tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Du Toit het in 2015 om borg aansoek gedoen. Nadat hy genader is om ’n onderhoud toe te staan vir die film, het hy versoek dat Alison hom vergoed omdat hy grootliks verantwoordelik is vir haar “fame and fortune”. Daar is besluit om nie ’n onderhoud met hom te voer nie.

Kommentaar

kommentaar