Indemnity

ʼn Skop, skiet en d*nner(s) goeie fliek

Resensie

Deur

Dee Theart

Met onheilspellende musiek en angswekkende beelde van groot brande wat in ’n plakkerskamp woed, besef ’n mens sommer so met die instrapslag dat Indemnity iets anders as die gewone gaan wees. Travis Taute se debuut vollengte prent spog juis alreeds met ’n allemintige twaalf Silwerskermfees Toekennings-nominasies, asook ’n speelvak in Kanada en die VSA.

Die aksie-riller film, Indemnity, gaan kortweg oor ’n eks-brandweerman, Theo Abrahams (Jarrid Geduld) wat aan PTSV (Posttraumatiese Stresversteuring) lei nadat twee kollegas in ’n tragiese brand oorlede is. Asof hierdie trauma nie genoeg is nie, word Theo een oggend wakker met die skokbesef dat een van sy naastes oorlede is. En nog erger – alle vingers wys na hóm, alhoewel hy absoluut geen herinnering van die beweerde moord het nie. En dan begin die “sports”. Theo Abrahams vat inderhaas die pad en word dringend gejag – deur die polisie én ’n onheilspellende mag. Maar wie is nou eintlik die slagoffer en wie die moordenaar in hierdie verhaal? Of het die skeidslyn alreeds wasig begin raak? 

Indemnity laat die kyker van begin tot einde raai en naels kou. Nie een keer word die kyker vlak gekyk nie – iets waarin baie ander Suid-Afrikaanse produksies al in die verlede erg gefaal het. Dis duidelik dat Taute (wat ook as skrywer op die rolprent, Nommer 37, en die Netflix-reeks, Blood & Water, gewerk het) van die staanspoor af die internasionele kyker ook in oënskou geneem het, veral met hoe die storielyn ontvou en op tye selfs nog meer kinkels in die kabel bykry. Alhoewel die film in Kaapstad afspeel, kon dit net sowel New York gewees het. Die fliek sluit ook ’n lekker kombinasie van Engels en Afrikaans (hoofsaaklik Afrikaans met Engelse onderskrifte) in, wat ’n inklusiewe en trots Suid-Afrikaanse gevoel weergee.

Dis die ongelooflik spel van Jarrid Geduld wat nou opslae maak en gaan anhou maak. Jy sal hom moontlik as Abie Pakkies in Ellen: Die storie van Ellen Pakkies (2018) onthou, en alhoewel hy ook uitstaande in daardie rol was, het die paar ekstra jare sederdien duidelik nog meer diepte aan hierdie veelsydige akteur gevoeg. Die emosionele landskap van die karakter Theo word onverbeterlik weergegee. Geduld kry dit reg dat die kyker die kwesbaarheid, smart en oorhoofse optimisme van die karakter vóél en belééf.

Nog ’n pluimpie is dat Geduld al sy eie waaghalse (“stunts”) gedoen het. Hy het drie maande se intense opleiding ter voorbereiding hiervoor ontvang. Vernon Willemse en Grant Powell van die maatskappy “Stunteam” (wat al op flieks soos Mad Max: Fury Road en Tomb Raider gewerk het), is verantwoordelik vir die aksiebelaaide prent se gevegte en waaghalse. Nee kyk, ons hoor net in Hollywood van sulke intense voorbereidings en transformasies, maar Geduld en die res van die ensemble bewys dat harde werk die vrugte sal afwerp. En jy kan maar glo dat jou mond gaan oophang as jy die waaghalsigheid op die grootskerm sien. Taute het nie die maklike uitweg van rekenaar grafiese-effekte (“CGI”) gekies nie, maar wou eerder alles self op stel doen en verfilm. Ongelooflike jaag- en aksietonele sal die kyker meesleur en na hul asems laat snak. Die gevegstonele is ongelooflik gekoreografeer en uiters geloofwaardig uitgevoer. Dan is daar boonop erge brande, ontploffings, ’n huisbakgeveg, ’n motorbotsing en… ’n sprong vanaf ’n gebou wat 21 verdiepings hoog is. Jy sal maar self moet kyk hoe daardie truuk eindig…

Alles vanaf die regie (Taute), musiek (Kyle Shepard), produksie-ontwerp (Christian Joubert), kinematografie (Zenn van Zyl) en redigering (Simon Beesley), is net van topgehalte en stel die maatstaaf vir enige toekomstige plaaslike aksieprente ongelooflik hoog. Die tematiese fokus op geestelike gesondheid en veral PTSV onder mans verdien ook melding. Dis ’n belangrike kwessie, veral onder die polisiemag en brandweer, waarvan ons nie genoeg hoor en sien nie.

Alhoewel die storie herinner aan films soos The Fugitive (1993), The Bourne Identity (2002) en The Manchurian Candidate (2004), staan Indemnity sy regmatige plek vol in dié genre binne ʼn Suid-Afrikaanse konteks. Die rolprent is ambisieus, maar nie oorambisieus nie. Dit het eerder die perfekte kombinasie van selfvertroue, waagmoed en ’n tikkie astrantheid. Of jy ʼn aksievraat is of nie, hierdie is ’n fliek wat jou trots Suid-Afrikaans sal laat voel.

Inligting

}

Speeltyd

124 min

i

Teks & Regie

Travis Taute | Travis Taute

Webtuiste

Skerms

s

Ouderdomsbeperking

13 D L V

Akteurs

Jarrid Geduld, Gail Mabalane, Andre Jacobs, Nicole Fortuin, Abdu Adams, Hannes Van Wyk, Louw Venter

Sterre

4.5/5

Bruto Inkomste

0

Word deel van die vriendekring