Hollywood in my Huis

Resensie

Deur

Gerhard Ehlers

Met hierdie spannende en opwindende aankondiging, is Suid Afrika op die voorgrond geplaas, wat Hollywood betref. Daardie aand in 2004 by die 76ste Oscar seremonie, het ons goue meisie die beeldjie vir Beste Aktrise trots vasgeklem, en elke Suid Afrikaner laat besef dat drome werklik waar kan word. ’n Oomblik later het sy trots aangekondig: “I’m bringing this home to South Africa, my home country!”

Steeds met die fokus by Charlize agter die mikrofoon, sny die rolprent na ’n klein televisieskerm in ’n effens agtergeblewe buurt, waar dié geskiedkundige gebeurtenis homself afspeel. Dis die dromerige oë van matriekmeisie, Jana van Tonder, wat na die skerm staar en so bevind die gehoor hulself in die openingstoneel van die nuutste tiener liefdesverhaal, Hollywood in my Huis.

Die regisseur, Corné van Rooyen, is ‘n nuwe en opkomende naam in die plaaslike rolprentbedryf. Die idee vir Hollywood in my Huis het al by hom vlamgevat in sy studentedae by die AFDA-filmskool en nege jaar later, is die vollgente rolprent verlede jaar aan Kyknet Silwerskermfees gehoorlede vir die eerste keer vertoon. Dit is so goed ontvang dat drie toekennings aan dié rolprent uitgeloof is by die fees. 

Hollywood in my Huis is gemaak vir ’n baie spesifieke teikengehoor, naamlik die  hoërskoolmark. Die storie van Jana van Tonder wat haarself, nes alle ander matriekleerders, in die vreemde en hormonale tienerlandskap bevind, droom daarvan om die populêrste ou in die skool na die matriekafskeid te vra. Jana word met talentvolle oorgawe deur die nuweling, Christia Visser, gespeel.

Jana se ouers, Tos en Beatrice (vertolk deur Louw Venter en Nicola Hanekom), kan as “kitsch” en effens “anderkant die treinspoor” beskryf word, maar dis hulle agtergrondstorie wat hulle menslik laat voorkom en simpatie by die gehoor laat wen. Ander karakters soos Angelique, die katterige blondine gespeel deur Leandie du Randt, en Vilje Maritz wat die hartebreker en tenniskampioen, Brandon Fourie, speel, is hoogs vermaaklik en hou die gehoor se aandag deurgaans.

Maar dit is Frikkie Kruger, gespeel deur Edwin van der Walt, wat die gehoor se harte steel. Frikkie is Jana se beste pêl. Dit is van die eerste toneel af duidelik dat dié twee gemaak is vir mekaar en dat dit net ’n kwessie van tyd is voordat hulle ware gevoelens vir mekaar ontbloot word.

Hollywood in my Huis is ’n lekker loslit Vrydagaand rolprent vir jongmense wat dagdroom en steeds in ware liefde glo. Die kamerawerk, verwerking en oorhoofse atmosfeer wat geskep word, is veilig speels, maar wat dié tipe genre betref, tog gepas. Die rolprent gaan nie jou lewe handomkeer verander nie, maar dit sal  jou Vrydagaand opkikker en jou tienerhormone op ’n lawwe pretparkrit vat, wat jou tone sal laat omkrul van lekkerkry.

Inligting

}

Speeltyd

90 min

i

Teks & Regie

Corne van Rooyen, Rene van RooyenCorne van Rooyen

Skerms

25

s

Ouderdomsbeperking

7–9PG L

Akteurs

Christia Visser, Christia Visser, Edwin van der Walt, Leandie du Randt, Brandon Fourie, Nicola Hanekom, Louw Venter, Francois Jacobs

Sterre

3/5

Bruto Inkomste

0

Word deel van die vriendekring