Frankie en Felipé

ʼn komedie wat jou lagspiere kielie

Resensie

Deur

Anna-Marie Jansen van Vuuren

Frankie en Felipé is ʼn (romantiese) komedie wat gaan oor aanvaarding. Om jou gesinslede te aanvaar, om jou wederhelfte onvoorwaardelik te aanvaar, en bowenal, om jouself te aanvaar. Dit is egter vir Franklin Blaze, voorheen Frankie Baadjies (Bradley Olivier) ʼn bomenslike taak, aangesien sy oorspronklike gesin hom in die weeshuis geprop het. Hy het sy hele lewe probeer om daardie deel te begrawe. Hy vertel selfs vir sy verloofde Kim Fortuin (vertolk deur Kim Syster) dat sy mense oorlede is. So, hoe gemaak wanneer sy broer, Felipé (Solomon Cupido) ná soveel jare weer sy opwagting maak? Juis in die week voor sy voorgenome troue?

Volgens die regisseur, Marvin-Lee Beukes, was dit die rolprentspan se doelwit om die stereotipe van bruin mense verkeerd te bewys. Dit was voorwaar ʼn verandering om ʼn bruin rolverdeling te sien wat nie grotendeels op die Kaapse Vlakte afspeel, of oor bendegeweld handel nie. Tog is dit nie ʼn realiteit waarvan die storie wegskram nie. Hulle kies net eerder om te fokus op hoe die karakters se lewe nou is, nadat hulle uit hierdie omstandighede uitgestyg het.

Ons het die twee akteurs, Bradley Olivier en Solomon Cupido, vir die eerste keer op die skerm leer ken as die grapjasse Borrie en Barry in Bakgat II (2010). Daarna het hulle gereeld saam op die kassie en die silwerdoek verskyn. Frankie en Felipé is die eerste keer wat ʼn vollengte rolprent aan hulle komiese ensemble-styl toegewei word, en dit is hartseer weens Olivier se skielike afsterwe. Die twee het my kompleet aan Al Debbo en Frederik Burgers herinner, Die twee weet van komiese tydsberekening.

Die skerp spel en dialoog waaruit die een kwinkslag na die ander vloei het voorwaar gemaak dat ek by hierdie komedie aanklank vind. Terwyl Zane Meas amper sinoniem is met die rol van Neville Meintjies uit 7de laan, gee sy karakter Bernerd Fortuin hom die kans om sy komiese spiere te bult. Kyle Shepherd se klankbaan speel ook ʼn boeiende rol. Ja, dit bly ʼn komedie, met die verwagte oomblikke uit die genre wat net té toevallig, of té dik vir ʼn daalder blyk te wees. Tog het dit my geensins van die storie vervreem nie, aangesien ek al gereeld Hollywood eweknieë vir soortgelyke sondes vergewe het.

Met ons Suid-Afrikaners se stresgevulde daaglikse lewens waar beurtkrag, nuus oor korrupsie, en bomenslike werskdruk dreig om ons te verswelg, was Frankie en Felipé beslis wat ek nodig gehad het om vir ʼn ruk te ontspan en waarlik te ontsnap.

Inligting

}

Speeltyd

90 min

i

Teks & Regie

Bradley Olivier, Solomon Cupido, Brett Michael Innes | Marvin-Lee Beukes

Skerms

s

Ouderdomsbeperking

PG

Akteurs

Bradley Olivier, Solomon Cupido, Kim Syster, Bianca Flanders, Ilse Klink, Zane Meas, Shimmy Isaacs, Danny Ross, Bouwer Bosch, Lee-Ann van Rooy, Brendon Daniels, Terence Bridgett

Sterre

3.5/5

Bruto Inkomste

0

WORD DEEL VAN DIE

Nie-Winsgewende Organisasie