Die Pro

Soveel meer as net branderplankry

Resensie

Deur

Dee Theart

Leon de Villiers het in 1997 die Sanlam Boekeprys vir jeugliteratuur gewen met sy boek, Die Pro. Daarna het die eer hom te beurt geval toe hierdie einste boek gekies is as voorgeskrewe leeswerk in skole regoor Suid-Afrika. Nou, agtien jaar later, verskyn hierdie boek se karakaters en gebeure op die silwerdoek met ’n vars verpakking deur kykNET en Hoofkantoor Produksies.

Die Pro se offisiële rolprentplakkaat het my laat twyfel of ek die rolprent gaan geniet – nog voordat ek dit gesien het. Gespierde jong manne, ’n blonde meisie in ’n bikini en branders in die agtergrond (wat jou dadelik laat dink aan ’n tipiese Hollywood branderplankry rolprent soos Blue Crush), word gebruik om die fliekganger aan te spoor om die film te gaan kyk. Dit mag dalk die jongklomp van die staanspoor af trakteer, maar waarskynlik nie ouer gehoorlede nie. Die spreekwoord lui egter nie verniet, “moenie ’n boek op sy baadjie takseer nie”.

Die Pro speel in die fiktiewe kusdorp, Vlakberg, af. Hier leer ken ons die 17-jarige Tiaan Nothnagel (gespeel deur Edwin van der Walt) en die mense wat in sy lewe is en was. Die kruks van die storie speel af in die tyd wat volg na die dood van Tiaan se beste vriend, Dirkie Lawrence (vertolk deur Viljé Maritz). Tiaan en Dirkie was beide kranige branderplankryers, maar na Dirkie se skielike dood in ‘n tragiese branderplankry ongeluk, neem Tiaan die drastiese besluit om nooit weer sy lyf in die water te sit nie. Dis nou totdat Tiaan se prentjiemooi sus, Yvette (gespeel deur Reine Swart), op die toneel kom en sy perspektief stuk-vir-stuk verander. Van daar ontvou ‘n storie van hoop en genesing en uiteindelik ook geluk.

Draaiboekskrywer en mede-vervaardiger, Tiaan van Niekerk, het ’n super slim breingolf beetgekry om die boek in ’n rolprent te omskep. Die Pro is alreeds as boek ’n treffer, so die werk vir die film was reeds halfpad gedoen, kan ’n mens redeneer. Die draaiboek is oor die algemeen goed afgerond en die dialoog is goed deurdink. Plek-plek wonder ’n mens oor die kontinuïteitselemente van sekere karakters. Die karakter Peet (gespeel deur Morné du Toit) kom aan die begin voor as ’n belangrike mentor vir Tiaan, maar later blyk dit dat Geyer hierdie mentorrol voorstel. Die teks laat ook heelwat vrae, soos wie Yvette se pa is en wat Geyer se agtergrondstorie is. Tydsbeperking was duidelik ’n groot faktor toe Tiaan van Niekerk moes besluit watter dele en karakters in die boek bly en gly in die rolprentweergawe. Breedweg het hy in sy eerste vollengte draaiboek poging met vlieënde vaandels geslaag.

Die akteurs is slim gekies vir hulle onderskeie rolle. Die vervaardigers het duidelik gespook om by hul finale keuses uit te kom, want die rolverdeling het al heelwat verander sedert die konseptualiseringsfase. Edwin bring ’n ongelooflike diepte aan die hoofkarakter, Tiaan, en ek glo mense wat al self die dood van ’n naaste moes verwerk, sal kan identifiseer met die verskillende emosionele fases wat hy uitbeeld. Die kere wat Tiaan emosionele ineenstortings kry, voel die kyker letterlik die rou pyn en seer van die tiener aan. Viljé (wat toevallig eers gekies was om die karakter Tiaan te vertolk) blink ook uit in sy rol. Hy beeld ’n speelse, mensliewende Dirkie uit en die kyker kan nie help om van hom te hou en saam met sy geliefdes te rou as hy nie meer daar is nie. Reine Swart (voorheen te sien in Villa Rosa en Somer Son) se rolspel as Yvette vat toenemend vlam soos die rolprent aangaan. Teen die einde kon ek wel sê ek glo in die egtheid van die karakter, maar dis ’n jammerte dat daardie vonkel nie van die begin af teenwoordig was nie.

Ander jong akteurs wat hulle uitstekend van hulle taak kwyt, sluit in Bennie Fourie (die spitsvondige Hermann), Arno Greeff (die agterbakse antagonis, Dustin) en Morné du Toit (die eksentrieke pizzawinkel eienaar, Peet). Zakeeya Patel (bekend vir onder andere High Rollers) vertolk die rol van Jasmine, ’n waardevolle karakter wat gebruik word om wrywing tussen Tiaan en Yvette te veroorsaak, alhoewel sy oor die algemeen te oordrewe voorkom. Ervare akteurs, Neels van Jaarsveld (as Geyer), Albert Maritz (as Kruiwa), Dorette Potgieter (as Yvette se ma, Lorraine) en Marcel van Heerden en Hélène Truter (as Tiaan se ouers, Elize en Ed Nothnagel) bring ’n sekere gravitas aan die rolprent en bewys weereens dat niks jare se ervaring kan klop nie.

André Velts staan bekend as die “akteursregisseur” en dit is duidelik opmerklik in Die Pro. Die kwessie rondom verlies is met die nodige sensitiwiteit hanteer en fyn nuanses is, te danke aan sy kranige regiewerk, ingewerk om die rolprent geloofwaardig te maak. Wynand Delport het werklik wondere verrig met Die Pro se klankbaan. Oor die algemeen is net nuut gekomponeerde, instrumentale klanke gebruik en veral die elektro-invloede werk goed met die brandertonele. Dit was ’n verfrissende verandering in vergelyking met vorige plaaslike rolprente wat omtrent net op bestaande musiek staat gemaak het.

Die ware helde van Die Pro is sonder twyfel Eduan Kitching (kinematograaf en kleurverwerker), Jozua Loots (klankontwerp en klankmenger), Wayne de Lange (water kinematograaf) en Linsen Loots (redigeerder). Die beelde waarmee die kyker bederf word (veral die waterskote en lugskote), is kunstig verfilm en geredigeer. Daar is bloot nie ’n oomblik van visuele verveling vir die kyker nie.

Die feit dat hierdie akteurs leer branderplankry het en lang ure in die water spandeer het om te oefen en te skiet, verdien ’n groot applous. Die meeste van die watertoertjies is self deur die akteurs uitgevoer, en net hier en daar is professionele branderplankryers gebruik om van die ekstra moeilike branderrytruuks namens die akteurs te doen. Hoe die filmspan dit reggekry het om met konstant veranderende weer en wolke in ’n baie kort tyd al die skote te verfilm, sal net hulle weet.

Die Pro is verseker ’n eerste op meer as een gebied vir die plaaslike filmbedryf. ’n Storie met ’n sterk universele boodskap, wat baie verder strek as die watertoertjies wat uitgebeeld word. Tiaan van Niekerk bewys ook dat toewyding tot ’n projek belangriker is as baie ervaring. Suid-Afrika benodig meer sulke passievolle storievertellers. Die Pro bied vermaak en lewenslesse vir jonk en oud: afgesien van aantreklike akteurs op die strand, laat die rolprent jou opnuut besef dat daar nie ’n reg of verkeerd is as dit by die hantering van verlies kom nie. Dis ’n pad wat elkeen alleen, maar tog saam met ander, moet stap. Aan die einde, sal lewe altyd bo die dood seëvier.

Inligting

}

Speeltyd

98 min

i

Teks & Regie

Tiaan Van Niekerk | André Velts

Skerms

25

s

Ouderdomsbeperking

10–12PG

Akteurs

Edwin Van Der Walt, Reine Swart, Viljé Maritz, Bennie Fourie, Arno Greeff, Zakeeya Patel, Neels Van Jaarsveld, Albert Maritz

Sterre

4/5

Bruto Inkomste

0

Word deel van die vriendekring