Blindelings

Berekenend en Boeiend

Resensie

Deur

Anna-Marie Jansen van Vuuren

Ek en mede-skrywer Gerhard Ehlers het destyds Terence Young se 1967 film, Wait Until Dark (met Audrey Hepburn) verskeie kere gekyk terwyl ons die draaiboek van die vollengte rolprent Wolf Wolf – Hoe laat is dit?, geskryf het. Daarom het ek die uitgangspunt herken toe ek Blindelings begin kyk. Daar is tog nie werklik iets soos ʼn oorspronklike storie nie. Tog het die tegniese vernuf van die rolprent – tesame met Donnalee Roberts se spel – my heeltemal oorrompel, en Blindelings een van my gunstelingflieks van 2023 gemaak.

Roberts speel die rol van René Scholtz, ʼn blinde konsertpianis wat binnekort moontlik ‘n eksperimentele oogoperasie kan ondergaan om haar sig te herstel. Haar man, Paul (Jacques Bessenger) het egter ʼn paar verkeerde besluite geneem wat hulle finansies in ʼn benarde posisie geplaas het. Dis wanneer die sakeman Steyn Rademan (Wilhelm van der Walt) op die toneel verskyn. Hy wil hê dat Paul sy familieplaas in ʼn luukse vakansie-oord omskep. Hy sal ook dadelik die geld voorskiet om hulle uit die finansiële verknorsing te red. Daar is net een voorwaarde: Paul moet ʼn naweek saam met hom op die plaas spandeer. Paul neem ook vir René saam. En dan begin die poppe dans.

Roberts kwyt haar briljant van haar taak om ʼn gesiggestremde persoon uit te beeld. Sy het klasse by die Kaapstadse Vereniging vir Blindes bygewoon om dieselfde tegnieke onder die knie te kry wat blinde persone moet leer om in ʼn visuele wêreld te oorleef. Verder groei haar karakter deurgaans gedurende die storielyn, sodat ʼn kyker kan verstaan en kan glo waar sy die innerlike krag vandaan kry om terug te baklei.

René leef met sinestesie, wat beteken dat klanke sekere kleure in haar visie oproep. Dit bied ʼn interessante kinkel tot die storie. Dit daag ook kinematograaf Tom Marais en sy beligtingspan uit, omdat ons baie van die skote uit René se perspektief sien, en hulle dus die tonele so moes belig. Tim Pringle se klankontwerp bring die fynere nuanses na vore, veral omdat René as ʼn blinde persoon ʼn verskerpde gehoorsintuig het. Regisseur Ivan Botha staan ongesiens agter al hierdie elemente, soos ʼn konsertdirigent wat moet seker maak dat die harmonie saamvloei, sonder dat een element die ander oorheers.

Van simfonieë gepraat – aangesien René ʼn pianis is, speel die klankbaan ʼn sentrale deel om die rolprent tematiese melodieë saam te bind. Al werk Charl-Johan Lingenfelder al jare lank in die rolprent- en televisiebedryf, het ek eintlik eers sy talent werklik begin waardeer toe hy die klankbaan van die rolprent Kanarie geskep het. Daarna het sy klankbaan van Beurtkrag, Roberts en Botha se vorige rolprent, my verder beïndruk.

As ʼn riller is dit juis hierdie elemente, soos die klank, speling tussen lig en donker, en oortuigende spel wat berekenend bepaal of ʼn fliek werk of nie. En Blindelings wérk. Die draaiboek het ook genoeg kinkels en kabels om die kyker vasgenael te hou.

My enigste kritiek op die fliek is op die verspreidingsmodel. Nes Beurtkrag (2022), het ek Blindelings (2023) by die Silwerskermfees gesien. Dus, in ʼn tradisionele teateropset, op ʼn silwerdoek met spesiale akoestiek. Met altwee hierdie rolprente is daar die tipe tegniese moeite ingesit wat werklik ʼn breër teaterverspreiding sou regverdig. Ongelukkig is dit nie altyd binne die vervaardigers se beheer hoe die verspreiding toegepas word nie.

Miskien hunker ek net terug na die dae voor die pandemie toe ons nog Afrikaanse rolprente op ʼn Dinsdagwinskopie of ʼn naweekbederf kon gaan kyk. Daarom eindig ek hierdie resensie met ʼn pleidooi laat ons weer rolprentteaters ondersteun, sodat die verspreiders weer hul vertoue in Suid-Afrikaanse gehore kan plaas. En totdat die volgende plaaslike fliek by die loket verskyn, kyk Blindelings in ʼn stikdonker vertrek saam met ʼn kameraad wie se hand jy styf vas kan hou – veral in daardie boeiende oomblikke waar jy benoud wonder hoe René gaan ontsnap.

Inligting

}

Speeltyd

100 min

i

Teks & Regie

Ivan Botha, Donnalee Roberts, Liani Jansen van Rensburg, Ernst van Wyk | Ivan Botha

Webtuiste

Skerms

s

Ouderdomsbeperking

16

Akteurs

Donnalee Roberts, Jacques Bessenger, Wilhelm van der Walt, Nita de Jager, Antoinette Kellerman, Denise Newman, Hélène Truter, Ludwig Binge, Jan Combrink

Sterre

5/5

Bruto Inkomste

0

WORD DEEL VAN DIE

Nie-Winsgewende Organisasie