Barbie

Soos ʼn ridder in ʼn pienk cadilac “red” sy fliekteaters – met nostalgie en styl

Nuus

Deur

Anna-Marie Jansen van Vuuren

Ten tye van die skrywe van hierdie artikel het die rolprent Barbie amper 550 miljoen dollar by die Amerikaanse loket verdien. Daarmee het dit Frozen II se rekord van 477 miljoen dollar verbygesteek, en vir die Greta Gerwig die titel besorg van die vroue regisseur wat nog die meeste geld by die VSA loket met ʼn fliek kon verdien. Plaaslik het Barbie twee miljoen rand by die loket tydens sy openingsnaweek verdien, en volgens die verspreider, Empire Entertainment, rol die rande steeds in. Dis goeie nuus vir almal betrokke by tradisionele rolprentteaters, of selfs net diegene wat nie wil hê hul plaaslike fliekteater moet sluit nie. Barbie het fliekgangers weer uit hul winterslaap laat ontwaak en laat besef dat daar tog redes is om die rusbank vir ʼn sitplek in ʼn atmosferiese teater te verruil.

Terwyl gehore hul in die nostalgie van Barbie, sowel as die fliek se vrouebemagtingstema verlustig (veral tydens vrouemaand), debatteer akademici oor die dieper betekenis daarvan. ʼn Dosent in Kommunikasiekunde by UNISA, Martine van der Walt-Ehlers, sê daar is baie menings oor die tipe rolmodel wat die Barbie-pop nog al die jare was (en is). “Sy is oor die jare sterk gekritiseer oor die oud-modiese gender norme en die onrealistiese liggaamsbeeld wat sy vergestalt het. En dis natuurlik ʼn hele gesprek op sy eie.” Tog, ten spyte daarvan word Barbie in 2023, en veral met die vrystelling van die rolprent, as ʼn feministiese ikoon beskou. “Hierdie feministiese aanslag is iets wat baie mense – veral ʼn groot segment mans – warm onder die kraag het,” voeg Van der Walt-Ehlers by.

Al sleep jong dogters hul pa’s en ma’s in strome fliek toe, is dit volgens die rolprentmakers nie die eintlike teikenmark van die fliek nie. (Die rolprent het ook ʼn ouderdomsbeperking van dertien). Al is daar hope pret en humor wat kinders sal laat skater, is dit die dieperliggende temas wat in die dialoog uitkom, wat by volwassenes aanklank vind. “Barbie is deel van soveel mense se kinderdae, en dis hoe nostalgie ʼn rol in die fliek se sukses speel,” vertel Van der Walt-Ehlers verder. Tog sê sy die fliek sou nie openingsnaweek en (dikwels venynige) kritici se resensies oorleef het, as daar nie iets besonders aan die fliek was nie.

“Vandat die eerste lusmaker-voorprent (“teaser trailer”) uitgekom het, kon ʼn mens sien dat Gerwig alles uitgehaal het om so getrou as moonlik te bly aan die Barbie wêreld wat ons ken. Terloops was daar glo op ʼn tydstip ʼn tekort aan ʼn sekere skakerig pienk verf wêreldwyd weens die hoeveelheid wat daarvan op die rolprent se stel gebruik is,” lag Van der Walt-Ehlers.

Die aktrise Margot Robbie, wat bekend is vir haar rolle in flieks soos Suicide Squad (2016), I, Tonya (2017), Bombshell (2019) en die meer onlangse Babylon (2022), vertolk die rol van “stereotipiese Barbie” – dié Barbie uit wie se oogpunt die storie vertel word. Sy was ook ʼn vervaardiger op die Barbie-rolprent. Van der Walt-Ehlers merk op dat die uitrustings wat Robbie tydens die fliek se publisiteitstoer gedra het sterk staatgemaak het op ʼn Barbie-estetika, dieselfde estetika wat in die fliek voorkom. (Terloops lys Barbie se IMDB-bladsy tien mense onder kunsregié, wat onder leiding van die produksieontwerper Sarah Greenwoord gewerk het.)

“Die fliek vorm ook deel van ʼn tendens wat al die laaste tien tot vyftien jaar posgevat het, genaamd kid-dulting. Dis waar volwassenes hierdie nostalgie uit hul kinderdae aangryp, deur byvoorbeeld volwasse inkleurboeke of retro-speelgoed te koop. So kán hulle weer hul kinderdae herleef”, verduidelik Van der Walt-Ehlers.

Barbie het fliekgangers weer uit hul winterslaap laat ontwaak en laat besef dat daar tog redes is om die rusbank vir ʼn sitplek in ʼn atmosferiese teater te verruil. Jy kan DIE fliek steeds by jou plaaslike teater gaan kyk.

WORD DEEL VAN DIE

Nie-Winsgewende Organisasie