Angeliena

ʼn Kaapse sprokie van ʼn karwag

Resensie

Deur

Anna-Marie Jansen van Vuuren

Die openingsekwens van ʼn tas wat op ʼn vervoerband rondom ʼn lughawe toer, gee ʼn mens ʼn voorsmakie van die reis wat op jou wag met regisseur Uga Carlina se Angeliena: ʼn kragtoer waarvan die produksieontwerp en stelinkleding haarfyn beplan is om die storie visueel te vertel.

Die storie handel oor Angeliena (Euodia Samson), ‘n karwag van beroep, maar ‘n kreatiewe siel in wese. Die parkeerterrein buite die “Grand Freedom Hospital” is die ruimte waar sy haar kreatiwiteit kan uitleef. Met haar fraai blomme bring sy ʼn klein bietjie vreugde aan die hospitaal se personeel en besoekers. Altans, aan almal behalwe die hoof van die hospitaal, Lawrence Mitchell (Colin Moss). Volgens hierdie suurknol is sy bloot ʼn “suurstofdief”.

Die rolprent is in een woord: kleurvol. En dié woord is van toepassing op alle aspekte daarvan – van Angeliena se persoonlikheid tot die binnekant van die sinkhuisie waarin sy bedags skuiling vind terwyl sy motors oppas.

Angeliena word vergesel deur eiesoortige mede-karakters wat elkeen uniek op hul eie manier is. Behalwe vir die booswig, Dr Lawrence, wat by tye effens eendimensioneel is, verteenwoordig die karakters mense wat ons ken, daagliks raakloop, of selfs mee kan vereenselwig omdat Carlini hul stories met ons deel. Hier en daar is daar ʼn akteur wat oorspeel, maar die meeste van die tyd is die spel natuurlik, en goed genoeg om, soos die cliché sê – die karakters toe te laat om in jou hart in te kruip. Die kinematografie is fyn uitgewerk. In sentrale dele van die storie vang nabyskote die emosies op die karakters se gesigte vas sodat ons as kykers dit saam met hulle kan ervaar.

As ek moet kritiek lewer, sal dit wees oor een of twee karakters en tonele wat eintlik oorbodig is. Later, wanneer die storie momentum kry, verloop die gebeure ampter te vinnig vir die kyker om by te bly. Hier en daar was daar ook iets in die storie wat nie sin gemaak het nie, maar ek was bereid om dit oor te sien, omdat ek my lank reeds oorgegee het aan die sprokieswêreld wat die regisseur en haar bekwame span geskep het.

Die rolprent se klankbaan, tesame met die kunsontwerp

(Angeliena se karakterontwikkeling word byvoorbeeld subtiel deur die slagspreuke op haar t-hemde oorgedra) is sentrale sleutels tot die fliek se sukses. Verskoon die woordspeling, maar ek wil sommer liries raak oor Charl-Johan Lingenfelder se musiek. Dit vang die karakter van Angeliena, die Kaap (waar die storie afspeel) en die toonaard van die rolprent stewig vas.

Uiteindelik dra Angeliena se storie ʼn boodskap van medemenslikheid oor, soos wanneer een karakter vir ʼn ander (in tye van nood) sê: “I will water your plants”. Dit is ʼn eenvoudige gebaar wat soveel beteken. En hierdie is ʼn storie van hoop wat Suid-Afrikaners nou nodiger het as ooit.

Inligting

}

Speeltyd

97 min

i

Teks & Regie

Uga Carlini

Skerms

s

Ouderdomsbeperking

13

Akteurs

Euodia Samson, Tshamano Sebe, Colin Moss, June van Merch en Marciel Hopkins

Sterre

4/5

Bruto Inkomste

0

Word deel van die vriendekring