Alison: Ware verhaal van ’n moderne heldin | Bioskoop

Alison: Ware verhaal van ’n moderne heldin

Stem vir die regte van verkragtingslagoffers weergalm in gedramatiseerde dokumentêre rolprent
Film

Film

Info

Regie: Uga Carlini

Met: Alison Botha as haarself. Christia Visser, Zak Hendrikz, De Klerk Oelofse, Francois Maree

www.alisonthemovie.com

Martie Bester

Martie Bester

Artikel Skrywer

Lees Meer

Alison Botha se merkwaardige verhaal van moed, deursettingsvermoë en oorlewing het die verbeelding aangegryp nadat haar boek, I Have Life, in 1995 gepubliseer is. Daarin vertel sy die verhaal van die nag kort voor Kersfees in 1994 toe sy verkrag, haar maag oopgekerf en haar keel herhaaldelik afgesny is deur Theuns Kruger en Frans du Toit, selferkende sataniste en beroepsmisdadigers.

Vlinders

In die dokumentêr vertel sy in sommige tonele met ’n boek op haar skoot waaruit vlinders vlieg en hul vlerke op die buiteblad fladder hoe sy nie net daarin geslaag het om haar fisieke wonde na haar aanval te genees nie, maar ook gekies het om as inspirasie te dien vir mense regoor die wêreld wat slagoffers is van gewelddadige en veral seksuele misdade.

Feite

Volgens die Health Systems Trust webtuiste word 1.7 miljoen vroue elke jaar in Suid-Afrika verkrag (die meeste ter wêreld), maar slegs 54 000 slagoffers meld hierdie misdade aan. Boonop word 75% van hierdie verkragtings in Suid-Afrika deur bendes gepleeg.

Aangesien die meeste verkragters die regstelsel vryspring, neem hul vrymoedigheid en behoefte om te verkrag toe, en sal die oortreders dit waarskynlik weer doen. Net soos in die geval van Frans du Toit wat voorheen op klagtes van verkragting in hegtenis geneem is, maar nie vervolg is nie weens onvoldoende bewyse.

In Suid-Afrika word meeste verkragtings nie aangemeld nie omdat slagoffers te bang is om na die owerhede toe te gaan, of omdat die stigma wat aan hierdie voorvalle gekoppel word te oorweldigend is.

Vasbeslote

Maar Alison Botha was anders. Die aand wat sy, soos derduisende ander in Suid-Afrika verkrag is en vir dood agtergelaat is, het sy die besluit geneem dat haar aanvallers vir hul dade sou boet. Eers het sy hulle name in die sand geskryf voor sy bebloed deur haar ingewande in haar liggaam en haar kop op haar nek te hou na die pad gestrompel het. En daarna het sy verbete om haar lewe geveg – met een doel – om hierdie mans se name aan die polisie bekend te maak sodat hulle nooit weer dieselfde aan iemand anders kon doen nie.

En so het haar verhaal om te oorleef begin en om nie net nog ’n slagoffer en ’n statistiek te wees nie.

Verbete

Uga Carlini, die vervaardiger, regisseur en skrywer van Alison het haar droom verwesenlik deur Botha se verhaal te vertel. En sy behartig dit goed met ’n deernis wat deurentyd soos ’n hartklop eie aan die rolpent bly. Daar kan sonder twyfel gesê word dat in ’n wêreld waar helde en heldinne uitgebeeld word as bonatuurlike wesens wat oor bomenslike en soms buitensporige kragte beskik, wat eienaardige grimering dra, in belaglike uitrustings die gereg dien, aan geboue vasplak of aan spinnerakke swaai en net tot aksie oorgaan begelei deur ’n “senutergende” klankbaan, hier uiteindelik twee ware heldinne van vlees en bloed na vore tree en die mens bemoedig om te glo dat die goeie wel oor die slegte kan seëvier – en nie net in superhero flieks nie.

Vreesloos

Carlini neem ’n brawe stap om Alison se storie op die grootskerm te vertel. Net soos Alison vreesloos was in haar stryd om oorlewing en om ’n verskil in derduisende lewens te maak, is Carlini vreesloos in haar uitbeelding van die hel waardeur Botha op 18 Desember 1994 en daarna gegaan het.

Die boosdoeners word met kil oortuiging vertolk, met Zak Hendrikz (Ballade vir ’n Enkeling) wat Frans du Toit grillerig goed speel en De Klerk Oelofsen (Hollywood in my Huis, Shepherds and Butchers, Modder en Bloed) as Theuns Kruger, Du Toit se bose handlanger. Maar dit is Christia Visser (Hollywood in my Huis, Ballade vir ’n Enkeling, Die Boekklub, Tess) as die jong Alison wat werklik uitstaan.

Sonder om ’n woord te sê, is haar vertolking so sterk dat haar tragiese gewaarwordinge uitstekend oorgedra word en ontroer, sonder om ooit sentimenteel te wees.

Fairy tale myths

Carlini wissel haar gedramatiseerde verhaal af met intieme oomblikke waartydens Alison haarself weerloos laat en die stukke van haar verlede werklik laat gaan, soos wanneer sy in ’n treffende en onverwagse toneel ontslae raak van al die klere en besittings wat sy die aand van haar “dood” en ook haar “opstanding” aanghad en by haar gehad het.

Deurlopend is Carlini se regie simpatiek sonder om bejammerend te wees, eerlik maar met deernis gevul en vertel sy Alison se verhaal met waardigheid en respek.

Maar Alison se storie is nooit dié van die lappop wat wag om van die ashoop af gered te word nie. Dit was nooit nie. Eerder, Alison beskou haar lewe as ’n klassieke feeverhaal met ’n alternatiewe gelukkige einde, sonder die ridder op sy wit perd. (Die mite van die “ware” ridder en held wat in sy gepantserde uniform aangelop kom, sterf ’n skielike dood in hierdie uitbeelding van ’n heldin wat besef dat sy op haarself moet staatmaak).

Vry

Alison Botha moes nie haar aanval oorleef het nie. En sy het. In ’n wêreld waar die morele kompas aanhoudend kantel, het ons almal doodgewone helde nodig. Dié wat ons nie net inspireer wanneer ons lewens op die spel is nie, maar wanneer die alledaagse bestaan stadig, stukkie vir stukkie aan ons rasper en dreig om ons siele ineen te laat tuimel.

Alison laat ons glo dat wonderwerke nog gebeur.

En dat ware helde en heldinne steeds bestaan.

*Towerkop Creations en Left Post Production het die #butterflyrevolution begin toe hulle hoë profiel Suid-Afrikaanse bekendes soos Justin Bonello, Kim Engelbrecht, Victor Matfield, Elana Afrika, Sandra Prinsloo, Francois van Coke en Jack Parow gevra het om hul ondersteuning aan die #butterflyrevolution vir geweld teen vroue en kinders te verleen.

Carlini sê: “Ons wil almal daaraan herinner dat ons mekaar kan inspireer deur stilweg braaf of reviolusionêr aktief in die openbaar te wees. Saam het ons ’n verantwoordelikheid om mekaar met respek te behandel.

“Ons beplan ’n revolusie, maar ons voer ’n #butterflyrevolution omdat die skoenlapper die simbool van vroulikheid en verandering is. Ons revolusie handel oor die ‘butterfly effect’, die wetenskaplike teorie dat een gebeurtenis, ongeag van hoe klein, die weg van die heelal vir altyd kan verander. Sluit nou aan!”

Lewende Afrikaanse rocklegend Francois van Coke oor die #butterflyrevolution:

Gunsteling Suid-Afrikaanse luiperdvelpet-rapper Jack Parow:

Bruto(ZAR)

Skerms

Kommentaar

kommentaar