The Recce

Stryd, Opoffering & Oorlewing

Resensie

Deur

Rick Bronkhorst

Tydens die verloop van ons geskiedenis het die stryd om vryheid en versoening al baie opofferings vereis. Onlangse historiese rolprente, van Mandela, long Walk to Freedom (2013) tot The Other Man: F.W de Klerk and the end of Apartheid (2015), fokus dikwels net op die rol wat politici gespeel het om Suid-Afrika in die vroeë negentigs te red van ’n dreigende burgeroorlog. Maar wat van al die opofferings wat families aan beide kante gemaak het tydens die drie-en-twintig-jarige grensoorlog? The Recce vra dié vraag, en nog meer.

Ons betree grensoorlog in 1987, net voor die vredesooreenkoms in 1989 gesluit is. Henk Viljoen (Greg Kriek) vertolk die rol van ’n lid van die spesiale magte, oftewel ’n rekkie, wat opgeroep word na Angola om ʼn belangrike kommunis van kant te maak. Sy taak sal van hom vereis om alleen die bos in te vaar en die Russiese soldaat te jag terwyl sy verwagtende vrou, Nicola Viljoen (Christia Visser), tuis bly en haarself vir hul nuweling voorberei.

Die stryd om die vaderland tydens die grensoorlog te verdedig vind op vele vlakke plaas en word verder deur die karakter van Impi Buthelezi (Maurice Carpede) uitgebeeld. Hy is ook ’n rekkie, met die taak om die regering se foute deur middel van sy pistool uit te wis. Carpede se vertolking van die karakter is uitstekend en mens sou nooit kon dink dat die akteur deesdae meeste van sy tyd in ’n radio-ateljee spandeer nie. Impi se storie is ook ’n ode aan Afrika en sy manier om burgers van die vasteland te slyp. Dit is ’n vergelyking wat verder deur die jong Impi se Jock of the Bushveld hond beklemtoon word.

Kriek en sy mede akteurs se vertolking van hul karakters is van internasionale gehalte. ’n Mens kan net wonder hoekom hul gesigte nie meer in Hollywood verskyn nie. Dalk is dít weer die vermaaklikheidswêreld se oorlog teen kommunisme.

Regisseur Ferdinand van Zyl bind die verdediging en onvlugtingsmeganismes van sy karakters deur die karakters toe te laat om hul denke aan jou te vertel. Dit sluit in dié gedagtes van ’n lieutenant, generaal, rekkie, familie en kollegas. Die worsteling van individue tydens die voortslepende grensoorlog word nader aan mekaar geweef deur die uitbeelding van elkeen se stryd om oorlewing. Hiermee gee Van Zyl die kyker ’n breë perspektief van die grensoorlog. Daar is wel heelwat herhalings van verduidelikings oor hoekom die grensoorlog geveg word. As kyker wonder mens of dit nie beter aangewend kon word om eerder die politieke konteks van die tydperk te bespreek nie.

Tog word die stryd teen kommunisme in die tydperk goed uitgebeeld. Henk se geveg teen die SWAPO neig soms oordadig te wees en herinner aan Hollywood se onrealisistiese oorlewing-situasies. Maar die spesiale effekte, kinematografie en redigering van skote dra tot ’n aksiebelaaide ervaring by. Daar is wel afbreek gedoen aan die fliek se geloofwaardigheid met die gebruik van ’n kommersiële Bell 206L Longranger helikopter. Die lugmag het tydens die tagtigerjare die Sud Aviation/ Aérospatiale Puma SA 330 gebruik en het in 1987 na die Atlas Oryx begin oorskakel. Die Oryx word steeds deur die Suid-Afrikaanse Lugmag (SALM) gebruik. Dit is ’n belangrike punt in die historiese konteks van The Recce, omdat Suid-Afrika as gevolg van sanksies teen die Apartheidsbeleid genoodsaak was om ander bronne vir wapens te vind. Bronne soos Israel, Switserland en Frankryk wat deur die VSA en Verenigde Koninkryk ondersteun was. Baie vervaardigers maak soortgelyke foute in terme van die vliegtuie wat hulle in hul rolprente gebruik. Hopelik sal hulle begin om meer aandag daaraan te gee soos wat kykers se algemene kennis al hoe meer verbreed in ’n digitale wêreld.

The Recce is die kyk werd, veral in vandag se sosio-politieke omgewing waar populistiese ideale weer poog om Suid-Afrikaners op te sweep. Deur die psige van ʼn rekkie te ondersoek, vra die fliek vrae oor hoe die sosiale psige gevorm word en wat die gevolge daarvan kan wees. Wat het die spesiale magte gedryf om herhaaldelik na die bos terug te keer? En wat van jouself? Wat dryf jou om self nie dikwels ‘n oorlog te voer ten bate van ander se ideale nie?

Inligting

}

Speeltyd

115 min

i

Teks & Regie

Johannes Ferdinand Van Zyl

Webtuiste

Skerms

25

s

Ouderdomsbeperking

16 L V

Akteurs

Greg Kriek, Christia Visser, Elsabé Daneel, Marius Weyers, Maurice Carpede, Albert Maritz, Grant Swanby

Sterre

3/5

Bruto Inkomste

0

Word deel van die vriendekring