Sy Klink Soos Lente

’n Nuwe Seisoen in die Afrikaanse Filmbedryf

Resensie

Deur

Anna-Marie Jansen van Vuuren

Bouwer Bosch het sy naam stadig maar seker die afgelope paar jaar as prominente figuur in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf gevestig – en meer onlangs ook spesifiek in die rolprentbedryf. Na ’n wen kortfilm by die Silwerskermfees verlede jaar, was die skuif na ’n vollengte rolprent seker die volgende logiese stap. Sy Klink Soos Lente is verseker ’n brawe stap vir Bosch, wat hierdie keer as medevervaardiger optree, en daarom ’n wyse besluit om die gesoute span van The Film Factory te betrek. Hierdie twee filmspanne bied ’n vars briesie in die Afrikaanse filmbedryf met die vrystelling van Sy Klink Soos Lente.

Die verhaal van ’n man wat voorgee om iemand te wees wie hy nie is nie en dan uitgevang word deur die vrou, is verseker nie ’n nuwe verskynsel in films op die internasionale front nie. Neem byvoorbeeld Sing Street wat ook vanjaar vrygestel is – die man begin ’n “band” om die meisie van sy drome te beïndruk. Ook die 2000-treffer Almost Famous is op die konsep van ’n kamma-kamma musiekgroep geskoei. Hierdie konsep word nou in Afrikaans vergestalt. Sy Klink Soos Lente handel oor Ben (Stiaan Smith), ’n motorwerktuigkundige, wat vir Linda (Amalia Uys), ’n suksesvolle ouditeur, een aand in ’n kroeg raakloop. Wanneer hulle lekker aan die gesels raak en die gesprek na hulle onderskeie beroepe wentel, besluit Ben om haar daar en dan te vertel dat hy die voorsanger van ’n “band” is – want dit klink vir hom beter as om te bieg dat hy ’n werktuigkundige is. Maar hoe nou gemaak as sy graag na die “band” – (met die naam Groenblare nogal!) wil luister? Ben en van sy werkskollegas bring toe noodgedwonge Groenblare op die been, sodat Ben sy “cool” beroep as rockster kan gebruik om vir Linda oor te wen. Maar hoe lank sal Ben vir Linda kan kul?

Op die oog af voldoen Sy Klink Soos Lente aan al die vereistes van die perfekte romantiese komedie. Die karakters is snaaks, die teks is slim en die storie is oulik (dog voorspelbaar). Stiaan Smith het homself goed van sy taak gekwyt om ’n baie natuurlike, volksmond teks te skryf wat dalk selfs ’n paar wenkbroue gaan laat lig. Die karakters gebruik baie “slang”-taal en skroom nie om te vloek nie.  Tog dra dit juis by tot die geloofwaardigheid van die teks. Wat wel bietjie vreemd was, was hoe versigtig Smith met die verloop van Ben en Linda se verhouding gewerk het en dat hulle selfs skaam was om te soen na ’n afspraak. Dit staan redelik in kontras met die soms rowwe dialoog. In kontras hiermee is daar ongelooflike mooi tonele wat die hartsnare roer, byvoorbeeld die toneel waar Linda haarself per abuis in haar huis toesluit. Maar al ondervind die karakters verskeie struikelblokke, ontwyk ’n groot klimaks die gehoor keer op keer.

Die toneelspel van Uys en Smith kom as gevolg van die teks baie natuurlik oor. Hulle vertolk die rolle van Ben en Linda oortuigend, alhoewel daar plek-plek ’n bietjie meer “chemistry” tussen die twee verliefde karakters verlang word. Wat die ander akteurs betref, is dit altyd lekker om Elize Cawood en Wilson Dunster op die grootskerm te sien. In hierdie spesifieke rolprent speel Cawood en Dunster prominente karakters. Hulle sorg nie net vir belangrike storie elemente nie, maar ook vir broodnodige humor en gravitas wat soms nie by die ander akteurs te bespeur was nie. Jong akteurs soos Lesego Molotsi en Chantal Herman het weer verwonder met hulle vars, entoesiastiese aanslag.

Corné van Rooyen het nog nie baie ervaring as regisseur van vollengte rolprente nie (Hollywood in My Huis was sy eerste film), maar dit blyk asof hy ’n natuurlike aanslag het en weet hoe om met akteurs te werk. Die kinematografie is met ʼn wonderlike oog vir detail deur Adam Bentel aangepak en C.A. van Aswegen het homself weereens bewys as ’n redigeerder wat grense verskuif.

Die musiek in die rolprent (saamgestel deur Dawie de Jager) word amper self ’n karakter in die rolprent. Dit laat die “band” Groenblare baie meer realisties vertoon. De Jager het die musiek goed gekies (Jannie du Toit se Liedjie Vir Jou trek onder andere ’n nuwe baadjie aan), maar die lewendige optredes van die Groenblare-“band” kom te blinkgepoets voor. Enige iemand wat lewendige musiek ken, weet dat dit anders as ’n album klink – daar moet tog ’n rouheid en egtheid wees. Groenblare op die verhoog klink egter meer soos ’n netjies verwerkte musiekvideo. Dit doen ongelukkig afbreek aan die idee van musikant-wees en musiek as rolspeler in die rolprent.

Die romantiese komedie genre in Afrikaans moet nog leer hoe om sy skoene vol te staan. Sy Klink Soos Lente is ’n uitstekende poging, maar merk ongelukkig nie al die regte boksies af nie. Die rolprent sorg egter vir lekker kykstof vir die breër publiek en manlike en vroulike kykers behoort aanklank hierby te vind.

Inligting

}

Speeltyd

89 min

i

Teks & Regie

Stiaan Smith |Corne van Rooyen

Skerms

25

s

Ouderdomsbeperking

10–12PG L

Akteurs

Amalia Uys, Stiaan Smith, Bennie Fourie, James Cunningham, Wilson Dunster, Bouwer Bosch

Sterre

3/5

Bruto Inkomste

0

Word deel van die vriendekring